Dis snaaks as die baas so stil by die tafel sit. Hy sit so en iets doen wat ek nooit kan sien nie. Maar wat hier onder gebeur sien ek alles. Hy sit so met sy poot in ‘n skoen wat sulke wolle in het. Dis maar baie dom van hom. Ons is seker daar is iets nie pluis in die skoen nie. Dit ruik heeltemal te wild. Toffie het die ding al baie beetgekry as die baas in die bed lê. Dan raas die baas, maar ons is seker daar is groot fout met die ding. Dit lewe amper.
Dis heel goed moontlik dat daar snaakse goed in wegkruip. Soos spinnekoppe of muise. Ja muise! Jy moes gesien het nou die dag. Die baas sit nog so lekker en werk daar bo op die tafel toe loop daar ‘n muis binne teen sy broekspyp op. Die baas voel voel toe die ding se rug teen sy been druk en hy dink baaaie diep na. Skielik vloog hy daar op en trek sy broek uit. Jy sal dit nie glo nie. Ek het my vergaap aan die twee maer pote wat uit die broekspype kom. Die baas skree: “Vat hom, wa’s die kat, soek die muis, vat hom.” Nou ja, ek kan nie kop of stert vasknoop aan wat die baas wou hê nie. Die kat of die muis en ek kyk vir sy bene. Uiteindelik vat die baas baaaie stadig die broek en klop en skud die ding verwoed uit. Daar het nooit ‘n muis uitgekom nie. Nie toe hy dit skud nie. Seker het die arme diertjie lankal gevlug.
Dis baie seer aan jou ore as die Miesies so skrou. Dan gaan jy maar uit. Maar die meeste water was toe klaar van my af.
Die lewe is tog baaaaiiie interessant. MAPSTIEKS!