Ja so gaan dit as die baas nie vir my wil luister nie. Dan praat hy net soos ons honde praat. Maak net geluide sonder om nou regtig iets daarmee te bedoel nie.
Sien, die baas het besluit om te gaan draf. Ek vra die baas: Nou wat is die idee van die draf ding? Waar wil jy nou so vinnig heengaan? Hoekom vat jy nie die bakkie nie?
Nee, tune die baas my, ek gaan net draf om bietjie oefening te kry.
Dis mos nou onsinnig baas, jy draf diekant toe, staan en blaas daar 5 minute, doen niks, en draf weer terug?
Ja Mapstieks, dis omdat ek bietjie oorgewig is en nou wil ek dit afskud.
Bietjie oorgewig? Die baas is plain VET. En draf gaan nie help nie. Die baas moet die borde kos wat hy eet baie minder maak.
Ja ja ja Mapstieks, ek eet nou al slaai, tamaties, drink sop en geen rooivleis of brood of aartappels meer vir my nie.
Oooooh! Nou weet ek hoekom kry ons geen bene meer nie. Dis die baas wat sy pens wil afskud dat ons geen bene meer mag kry nie, nou ja, kom laat ons daai draf ding doen, dan sal ek die baas ‘n ding of twee wys.
Maar draf op vier pote is baie makliker as op twee, die baas moet die handskoene ook aantrek, dan laat sak die baas homself so op sy voorbene of arms of watookal en dan trek die baas die pens in dat hy nie op die grond skuur met die draf nie en dan draf ons!
Neeee Mapstieks, reken die baas, ek draf op twee bene, nie op vier nie. Dit gaan baie vinniger.
Ai ai ai die baas tog, ek kan op my vier kort bene baie vinniger draf as die baas op daai twee lang besemstokke van hom. Sy pens is groot en dik, maar as jy sien as die baas sy kortbroek aantrek dan verwonder jy jouself dat die twee dun stokkies daai pens bo kan hou. Geen wonder die baas sit so baie nie.
Agterna gesien moes hy liewerste die miesies se helmet opgesit het wat sy dra as sy van die perd af val.
En weg trek die baas. Mooi baas, mooi, bietjie vinniger baas, dan skud die pens ook vinniger en jy gaan vinniger maer word sodat ek vinniger weer ‘n beentjie kan kry. As jy moeg word, laat hang jou tong uit jou mond en blaas soos ek, sien, heghegheghe. Ja baas jy kom gou reg, jy blaas al nes ek!
Maar toe gebeur daar ‘n baie lelike ding. Die Freckels hardloop hier reg agter die baas waar hy haar nie kan sien nie. Hy kyk vol inspanning vorentoe waar die pad heengaan. En soos die baas sy een voet neersit, sit hy die ander voet ‘n meter en half vorentoe. Maar al die tyd staan die een voet doodstil terwyl die baas se lyf vorentoe gaan. En dis sulke tyd dat Freckels hier voor die voet inhardloop en die baas die voet nou wil optel met Freckels in die pad. Dit was nie ‘n goeie plan nie. Die baas vlieg deur die lug, hande en voete wyde oop soos ‘n voeltjie. Maar die baas weet niks van land nie. Hy ploeg daar in die grondpad dat daar eintlik ‘n duik in die pad is. Dis toe dat hy op sy hand val, wat ek gesê het hy moet handskoene aantrek. En val op sy arm en knieg. Gelukkig nie die kop nie, want die hoed sou hom niks gehelp het nie. Dis toe wat die baas daai Grrgraau au au au ding uitkry. Dom Hond of dem hond of so iets het hy ook nog gesê. Die baas het die paadjie verder af gestap. Die pens het toe nooit afgeskud nie. Pleks dat hy daarop geland het, dit sou baie sagter gewees het.
Nou ja wat, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!