Ek het die hoed opgesit en my gesig soos broer Krisis getrek en nou pas ek die presente hier op. As die mense iets van die presente wil hê, dan moet hulle my eers vra. Anners loop elkeen net weg met wat hy wil. Ho Ho ho ho.
Daar word glo ‘n geweldige hoeveelheid kos aangekoop. Soos in vleis en koek en koekies en tert en wors en tjops en boud en en en . Ja dis die belangrikste.
Dan koop die baas nog goeters wat hy eers toedraai in gekleurde papier. Dis nog dommer. Dan skryf hy daarop wie s’n is dit. Plaas dat hy dit ooplos dan kan hy mos sien wie s’n is dit. Lekker dof die baas hoor. Met die kersfees dan kry elkeen sy pakkie en skeur daai papier weer alles af wat hulle met soveel moeite daarop gesit het. Glad nie slim nie. Ek het al aan die pakkies gesnuffel. Dit ruik vir my soos plastiek, hout, glas, spuitgoed, papier en so meer. Maar nie een van die pakkies het kos in nie. Ook maar goed anders het ek hulle al lank al oopgemaak en getoets vir varsheid.
Laas vrydag toe koop die baas mos droge wors by een of ander slagbedryf. Ek sal nie sê waar nie. En van die wors saag hy toe ‘n stukkie vir my af. Ek het eers so goed daaraan geruik, maar dit was nie snaaks nie, behalwe dat die oorspronklike ruike nie meer daar was nie. Dit het vir my geruik soos die mummie van Farao se piramiedes wat hulle daar gebruik het vir die wors. Ek het amper my tanne op die ding gebreek. Die baas het die stuk wors so gevat en soos ‘n hockey stok geslaan na ‘n klip wat op die grond gelê het. Gelukkig was dit mis anners was die klip deur die dominee se venster. Sowaar.
Toe sê die sussie vir haar ma dat sy my gaan saamneem huistoe. Die baas sê toe dadelik “Ja” maar so gou kom hy nie van my af nie hoor. Toe sy my voor die deur neersit, toe draai ek skierlik om en reverse trug na my stoel toe. Ek het mos ‘n job hierso en kan nie geld verdien deur op my rug te lê en gevryf te word nie.
O nee. En dan het ek nog vir tannie Tombi, Frommels en suster Kat om voor te sorg. Iewers sal daar groot moeilikheid onstaan.
Die baas moet liewers vir Frommels verkoop. Die ding is erg. vandag weer, toe die baas sy skoene wil aantrek, toe is dit weg. Soos in weg. Een skoen is daar in die baas se slaapkamer maar die anner een is weg. Die baas loop en soek die hele erf vol op sy pantoffels, maar kry niks nie. Toe na so laaaang ruk gaan kyk die baas in die spaarkamer. Ja hoor. daar het Frommels die skoen op die spaarbed geparkeer. So ‘n klein niksnut. Ek sou soiets nooooitnie doenie.
Ek hoor die mannetjie mense praat van klappers. Dit klink glad nie goed nie. Smaak my die goed gaan verskriklik raas hier oor die feestyd. Dis nou regtig nonsense. Daai harde geklap hier aan my ore maak my seer. Selfs al word die klapperding daar doer daar ver geskiet, maak dit my nog seer. Dis amper soos die donnerweer. Daai blitse wat so slaan is glad nie mooi nie. Die baas dink wel dis mooi. Maar sê nou die blitse slaan hier op die plaas en slaan my agter my boude? Ek sal mos opstyg en half gerooster weer terugval? Soos die roosterbroodjies in die broodroos-terding. Ek glo nie die baas het mooi gedink nie. Jy kan maar kyk as hy die sny brood in die rooster sit. Dis nie lank nie, dan pop die ding daar uit. Bruin aan altwee kante. Soos ek. Maar dan baie warmer. O nee, dankie hoor, eks maar liewerste versigtig. Ek kruip weg vir die blitse dan hoor ek net die donner. Soos die klappers.
Die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!