Goeie dag waf.
Sien, ek leer al behoorlik wafrikaans praat. Dis omdat die baas en miesies nou altwee vir mekaar blaf. Hulle reken dis ‘n siekte. Ek glo niks daarvan nie. Ek blaf altyd en ek is nie siek nie. Dis pure aansit.
En dan, van vorige week, al my bewonderaars wat vir my kom vertel het hoe mooi ek is, baie dankie vir julle ondersteuning hoor, ek voel beslis beter. Hieronder is een van my grootste bewonderaars wat omtrent elke dag vir my kom hallo sê: F.G. is sy naam. Is hy nie groot en sterk nie? Hy is beslis ‘n hondekenner, daarom like hy my so baie. Die ander miesies kan nou maar gerus haar foto plaas laat ons sien of daar enige bewonderaars vir haar opdaag om haar punte te gee!
Laas Maandag was ‘n baie eensame dag. Die baas het besluit om weer Johannesburg toe te ry en ek dog nog ek ry saam soos gewoonlik, toe boender die miesies my by die deur uit. “Of ek ry saam, of die hond ry saam, maar nie ons altwee nie.” Dis wat sy vir die baas tune. Nou ja, die baas is ‘n baie gehoorsame baas, soos ek, en hy sê toe maar niks nie. Altans, nie dat ek iets gehoor het voordat hulle weggery het nie. Toe kom hulle eers laat nag weer terug.
Maar Dinsdag was ‘n baie besige dag gewees. Ek het weer saam met die baas gaan werk en ek het ‘n nuwe jubbeskrywing gekry. Bo en behalwe dat ek die hoof sekuriteitswaghond is, kan ek nou deur die dag as ek myself verveel nog die kantoor se shredder wees.
Weet jy wat dit beteken? Jy gryp elke papiertjie wat die baas in die vuilgoedblik gegooi het in jou mond, trap dit op die grond vas en dan trek jy. Dan hoor jy daai girts geluid en die een papier het twee geword en so gaan jy aan tot alle ingigting op die papier onherkenbaar geword het. Ek kry dit nogal gou reg. Dis net moeilik om die goed weer terug te kry in die vuilgoedblik, maar die baas doen dit vir my. Hy gooi baie keer ook sulke papiere weg waar kos in was. Dan lek ek dit eers mooi skoon en daarna versnipper ek dit. Gister toe bring hulle vir die baas ‘n “worsbroodjie” Mapstieks, hier is ‘n “HOTDOG”, sê hy vir my. Nou die idee het my glad nie aangestaan nie. HOTDOG grens aan kannibalisme. Hulle moet dit verbied. Hoeveel arme honde moet hul lewe aflê om hierdie lekkerny vir die mense te kan bring? Ek is seker die DBV weet niks daarvan nie. Kan jy jouself voorstel hoe ek lyk in so ‘n HOTDOG? Ky net hoe lyk ek hierlangsaan. En dan die woeste tande van die mens wat die ding wil hap! Dis lewensgevaarlik deesdae om alleen op die straat rond te loop. Hulle sal jou optel en in die HOTDOGstalletjie gaan verkoop.
Dit is nou wat mense alles vir kos doen. En nie net die mense nie, maar die ver-vlakste perde ook. Toe ek nou vanoggend my ontbyt daar buite wou gaan eet, toe staan daar ‘n frieken basterd perd met sy neus in my kosbak. Ek het hom gevloek van sy merriema tot sy oorgrootpa hings maar die ding trek hom niks van my geskel aan nie. Hy moet beslis stokdoof wees. Weet jy hoekom hulle sê: “Stokdoof”? Dis omdat hy ‘n stok nodig het om iets te kan hoor. Nee, hy gebruik nie die stok nie, dis jy wat die stok gebruik. Met elke woord wat jy sê, timmer jy hom behoorlik op sy gat. Een vir een slaan jy die woorde daar in. Dan gaan dit later op na sy verstand toe. Dis soos spykers wat jy met ‘n hammer slaan. Jy hou die spyker met een hand vas en dan slaan jy met die hammer in die ander hand. So plak jy die woord eers op sy boud en dan timmer jy dit met die stok tot dit goed vassit. Dit werk. Ek is ongelukkig nie baie bedrewe met die stok ding, so ek skel en bespreek die ding se hele voorgeslag wat almal diewe en deugniete was, want geen ordentlike merrie sal ooit so ‘n nikswerd van ‘n perd voortbring nie. Waar het jy gesien, dit steel so wragtig die ou klein opregte hondjie se kossies uit sy bak uit.
Die baas is nie bang nie. Die een broer Stoffel wat ek so bespreek het is nog besig om my kos te steel, toe probeer die ander broer Landmyn (onthou jy?) om hier binne in die buitekamer wat na die kombuis toe gaan, om daar die kos uit die drom uit te steel. Die miesies gee hulle hul kos op hulle tyd, maar nee, hulle moet nou ontydig kom staan en kos steel. Maar die baas staan toe en praat baie beslis met die hors. “Oorlog,” sê hy “Landmyn, jy steek nie jou neus in die drom nie” sê hy. Maar die Landmyngedaante glo nie die baas nie. Hy trek sy ore plat soos in: “Ek hoor niks nie” en steek sy neus hier in die drom. Maar toe hy sy neus en sy plat ore weer daaruittrek, toe voeter die baas hom met vier vingers op die plat kant van sy neus, hier onder, tussen die twee gate wat so groot is dat jy daarbinne sal verdwyn. Wapwap gaan dit. Die perdding ruk toe sy gesig so vinnig tussen die plat ore terug, dat die ore weer vorentoe staan. Hy gee die baas een kyk en stap saggies terug. Stupid perd het tog iets geleer.
Die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!