Die kat is musieklik. Dis ‘n vreeslike siekte wat jy tog moet hoop om nooit te kry nie. Dis véééér by hondsdolheid verby. Katsdolheid. Dolle kater of so iets. Nou skrou die kat die oomblik dat hy die kombuis instap. Die baas en die miesies is baie vredeliewend. Hulle los die deur en die venster oop vir suster kat om in te kom, en die gedra haarself soos ‘n groot kat veronderstel is om haarself te gedra. Sit doodstil en prrrrr daar op die tafel of waarever dan ook. Maar die klein karnallie van KleinKat kan nie sy raasbek hou nie. Die oomblik wat hy die kombuis instap skrou hy. Die baas stap na die tafel waar hulle kosbak staan. Hulle kosbak mag mos nie op die grond staan soos ons s’n nie, omrede dat ons hulle kos sal opeet kamstig. Natuurlik sal ons hulle kos opeet. Wie los dan ook kos in die kosbak oor? Ja, en hulle eet so staaaaadig. Dan trek hulle die kossie so uit die bak en gaan eet dit langsaan. In die tyd het ek al laaank al my neus in die kosbak gedruk en driftig die res daar opgesluk. Bygesê as broer Frommels nie in die nabyheid is nie. Want die gee net een lek in die katte se bak en dis op.
Maar in alle geval, die baas kyk dan in die bak en as daar kos in die bak is en die KleinKat skrou so, dan begin die baas rooi in sy gesig te word. Hy word altyd rooi van bo af, nie van onder af nie. Dan rek hy sy stem en skrou saam met die kat KAT!!!! Frommels like dit niks as die baas so skrou nie, hy hardloop onmiddellik weg. Nie die kat nie. Hy laat sak hom 10 sentimeter laer op sy pote en kyk waar kan hy wegspring as dit moet. Karooeoul skrou hy dan bietjie sagter. Maar dan is die baas op hom. Kom hier jou KKK hakkel die baas dan, Klein Kat se Karnallie wou hy sê maar as hy so rooi is praat hy nie meer so vloeiend nie. Hy begin dan te hakkel. Maar goed ook anders sou hy dalk nog iets anders gesê het. Vlieglesse het die KK al lank al gehad en die baas help hom maar net om dit te onthou. Hy het baie aanmoediging nodig om te oefen.
Nou het die Karools Klein Katools Kat al die helfte van die naaste omgewing se katte bymekaar geskrou om ‘n band te maak. En dit sing nou driestemmig saam in die nag onder die maan. Ek en broer Jakkals en broer Frommels sing ook saam maar nie saam met hulle nie. Ons sing net by volmaan. Hulle sing net omdat dit Maart is vir een of andere rede. Ek is seker die suster Kat het ook iets daarmee te doene. Bek wyd oop, oge op ‘n skreefie getrek en dan die blaasbalke oopmaak en hier by die stembande verby pomp. Dis nou sing volgens die katte.
Ons honde sing nie met so ‘n bek wydoopgetrek nie. Ons sing so netjies soos in oe oe oe oe. Woehoe oe. Probeer dit? Maak jou mondjie so oe oe en kyk hoe klink dit. Maar as jy jou mondjie so AAAAA ooprek, dan klink dit asof die aarde wil vergaan. Niks goed nie!
Daai ander broer op die draadloos het ook so gesing soos die katte. Al ons katte het onmiddellik daar voor die draadloos gaan sit en saamgesing. Dit was met daai Tjaailatyd reg of weg storie. Sê een van die luisteraars: Nog ‘n bietjie meer vibrato en ons het ‘n aardbewing gehad.
Daar is min van die radioartieste wat soos ons honne kan sing. Maar hierdie broer wat van die toring af sing! As hy sing, dan sing ek beslis saam. Dis so mooi!
Maar nou ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!