Dis sulke tyd, krismis en die baas en miesies wil gaan rondry. Maar nou wil hulle nie ons honde net so op die plaas los nie, want Frommels en Freckles hardloop na die buurman om onsinnighede daar te doen. En dan word hulle daar vasgebind en moet hulle self bevry om weer terug te kom. Maar nou het die baas 'n klein dun draadjie bo oor die ander drade gespan. Dink hy nou regtig die draadjie gaan Frommels keer? dit buig dan soos 'n knipmes as Frommels daarteen vasbeur. Geen probleem nie hoor. Maar wat se wit draadjies loop nou daarvandaan na die huis toe? Dit lyk verdag. Maar nou ja, ek sal sien wat Frommels maak. Freckles het net so in die hok gekruip en daar gaan lê, maar Frommels was nou slimmer. Kyk baas, sê hy, dis hier wat ek weer deur kruip. Nie naby jou draadjie nie hoor. Ek sal dit nie stukkend maak nie as jy dit met 'n spesiale doel daar opgesit het nie. En wragtig. Binne 'n minuut nadat die baas hom in die kampie gesit het, is hy weer daar uit daar by die krip langs. Aha, sê die baas, Nou sal ek daar ook nog 'n draadjie span en dan sal ons sien. Hy span toe ook nog 'n ekstra draadjie daar en maak dit vas aan die boonste draadjie en soek vir Frommels. Mies, sê hy, gaan kry vir Frommels daar anderkant.
Nou ja wat, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!