Dis nou wonderlik. Baaaaie wonderlik. Ek het so my eie stert bestudeer en dis ‘n baie interesante ding. As ek oor my linkerskouer kyk dan sien ek een en as ek oor my regter skouer kyk dan sien ek nog een wat tog anders lyk, so ek moet twee sterte hê. Frommels stry met my en se hy het twee sterte en ek het net een. Maar as ek hom so kyk dan het hy tog net een stert. So die moeilikheid is groot. Maar as ek die suster Kat bekyk, dan word dinge nog baie meer ingewikkeld. Ek swaai my stert as ek opgewonde en vrolik is, sommer hier van reg agter my boude. Maar suster Kat het ‘n ander idee van die lewe. Sy hou die hele stert stil as sy opgewonde is en swaai net die puntjie van die stert. Maar as sy kwaad is, dan swaai sy baie meer as die puntjie van die stert. Nou ek nie hoor, as ek kwaad is gaan staan my hare op my rug sommer regop. Ek kyk so vinnig oor my skouer en sien die hare staan so ver bokant my rug, dan weet ek sommer ek is kwaad. Dan grom en blaf ek met mening. Maar suster kat pof haarself op dat die hare onder haar pens so reg af staan en by die sykante staan dit sykante toe. En kan sy dan afblaas hoor! Dit klink of sy hakkel FFFF FFFFF FFFF maar die res kan sy nie uitkry nie. Moet so iets wees soos Foertsek of so iets maar dit klink asof sy leegloop. Nee wat, dis baie beter om ‘n hond te wees as om ‘n kat te wees. Die klein katjies is heeltemal iets besonders. Hulle kyk vir jou met daai kry my jammer gesiggies maar hulle meen niks van wat hulle gesigte lyk nie. In werklikheid dink hulle: Stupid brak, kan jy nie sien ek is slimmer as jy nie. Dan gaan suie hulle weer aan hul ma. Hulle kan nog nie eers eet nie. As die baas vir hulle bietjie kos op die grond sit, dan kom Daisy onmiddellik om vir hulle te wys hoe moet hulle eet. Sy hap en sê vir die klein katjies: Sien julle so moet jy dit doen. Dan hap sy weer. Die volgende oomblik kom Frommels daar aangestorm met sy groot help-my-trap-voete en vee-die-vloer-tong en drie sekondes later het hy vir die klein katjies en Daisy gewys hoe moet dit gedoen word. Dan kom die baas terug en se: Ag tog, kyk hoe honger is die klein katjies en hulle eet al so mooi. Dan gee hy hulle nog so bietjie kos terwyl hulle vir hom met daai kry my jammer gesiggies loer en Daisy en Frommels waai hulle sterte van blydskap. Nou kan hulle die klein katjies regtig mooi wys hoe word dit gedoen. Gee pad Frommels, gee tannie Daisy ‘n kans! O my goede, dis nie ‘n goeie plan nie. Frommels het al die katte se kosbak bestorm nog voor die baas weg is. FROMMELS! Skrou hy. Skoert! Ai Ai as die baas so raas dan moet jy pad gee. Hy kan iets oorkom as hy so is en dis glad nie mooi nie. Gelukkig gee Frommels en tannie Daisy pad.
So what ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!