Woevuzelwafwaf
Jy sal nou vra hoekom ek so snaaks groet. Dis balroltyd nou. Ek hou nogal daarvan as daar ‘n bal is om rond te rol. Die ding is net te groot om in jou bek te neem, maar anders is dit heel o.k. Die ding kom vanself op jou af, dan gee jy dit so ‘n ligte tikkie en dan kry dit ‘n koersverandering heeltemal van sy eie. Wonderlike ding die bal. Suster kat dink ook so. Dan hol ek en sy agter die bal aan wat sy eie koers inslaan. Veral as die ding met haar pote rondtik.
Maar die vuvuzela ding is nie lekker nie. Ek loop my rondte daar buite om die huis en ek hoor hierdie gezoem van die bye maar nou aan die ander kant van die huis. Altyd het die bye by die linkerkant van die huis so gezoem. Hulle het ‘n vet nes daar onder die baas se kamer se houtvloer. Hy moet net ‘n gaatjie boor en ‘n pypie daarin steek en dan mooi vir hulle vra om die heuning daaring op te pomp. Maar nou hoor ek die gezoem hier aan die voorkant van die huis. Eindelik sal ek agterkom dis die vuvuzela’s daar in die klein hokkie.
Daar in die kamer met die baie sagte stoele waar ons nie op mag sit nie, daar staan so ‘n ander hok. Daar brand ‘n lig binne in die hok en daarkom stemme uit en die goed beweeg heen en weer daar binnekant. Ek het al probeer om daarbinne te snuffel, maar dit stink lelik soos plastiek en rubber wat brand. Daarbinne speel die mense nou sokker. Dis ‘n totaal verkeerde naam vir die spel. Dit moet rolbal of vliegbal gewees het want die helfte van die tyd rol die bal na die spelers toe en die ander helfte van die tyd vlieg dit soontoe. As daar niemand in die pad staan nie, dan kom die bal vanself by die voet van die speler tereg.
Hulle speel op so’n groot grasveld met heerlike sagte groen grassies. Stoffel sal daar nou van hou hoor! Jy sal hom met geen geweld weer daar wegkry nie. Ook nie as jy daar begin rondhardloop en wag vir die bal nie.
Ek sien daar dat die manne hou daarvan om op die sagte gras te le. Hulle doen dit as hulle bietjie moeg geraak het van die rondhardloop. As die bal daar naby hom was en dan na die ander speler toe spring, dan gaan le hierdie man lekker saggies op sy rug, met sy vier pootjies in die lug. Dan maak hy sy ogies toe, en hang sy tong so half uit sy mond uit en wag tot hulle hom se hy mag nou maar opstaan. Partymaal is hy onwillig. Dan bring hulle ‘n rooi plank en le hom daar bo op en dra hom sommer daar weg uit die pad uit. Netnou struikel iemand oor hom. Sommige rol erger as die bal heen en weer. Dan trek hy ‘n gesig soos die baas as hy sy duim raakgeslaan het. Het ek jou nog nie daarvan vertel nie? Ek sal jou later daarvan vertel. In alle geval, die ou trek so ‘n gesig. Dan kyk hy rond of die mense vir hom kyk. Maar dan sien hy dat die bal al doer anderkant trek en niemand stuur hulle aan hom nie, dan vlieg hy weer daar op, loop so bietjie kruppel as die mense vir hom kyk maar nou nou hardloop hy weer net so lekker tussen die ander lot. Jy sal nooit kan raai wie het nounet so woes rondgerol nie.
Dit lyk vir my of die bal soms koers vat na die net wat hulle binne twee pale gespan het. Daar binne in die hok staan ‘n man wat baie moedswillig is. Hy wil nie dat die bal daar binne beland nie. Hy vang die bal, draai hom om se vir hom: “Gaan weer anderkant toe” So vlieg en rol die arme bal die hele tyd van die eenkant van die groen gras na die anderkant.
Die bal vra mooi vir die spelers: “Help my tog asseblief daar in die net in dat ek kan bietjie rus” Maar die manne is net so moedswillig. Hy staan drie meter voor die hok, die hok is vyf meter wyd en dan help hy die bal nog by die hok verby. Of bo oor. Hulle moet my daar ‘n kans gee! Ek sal die bal saggies rol tot binne in die hok. As iemand dit waag om sy been na my uit te steek, dan byt ek hom! So sal ek en die bal veilig binne in die hok beland hoor. Ek is nie bang vir die ou met die handskoene nie. Hy sal vir my moet passop.
Ja, en toe kry ek ‘n brief van my broer Ore. Hier is dit:
“Hi my bra, my pa se vir my dat hy jou ma ken en dat jy my broer is. Ek moet hom glo, want hy is baie slim en dra die kennis daarvan. Ek lees jou stories elke week. Nou het ek vir jou ‘n fodie gestuur van hoe ek met die bal kan speel. Maar die baas van my is ook ongenadig hoor. Ek het al die bewyse. Sien jy hierso, ek maak my bek oop sodat hy die bal daar binne in kan gooi. Hoe moeilik moet dit wees? Maar nee, hier gooi hy reguit binne in my oor. Dink hy miskien ek kan die bal vang met my flapore? Al is my naam Ore, kan hy gerus probeer om vir my bek te korrel hoor. Ek het baie simpatie met jou en jou baas. Dis nie maklik in die lewe nie. Hou hom maar goed dop, anders sal hy homself dalk seermaak. Jou broer, Ore”
Ja, broer Ore, dis beslis net so. Kyk nou wat hier tog weer aangaan. Ons staan so vroeg in die oggend op en inspekteer die waterkrib en die water is kliphard. Jy glo dit nie, maar die kliphard. Die baas help my daar binne in die bad in en ek dog nog ek gaan nou swem, toe staan ek op die water! O ja hoor, bo op die water. Dis vervlaks koud aan my voetjies en glad ook. Ek gly met al my vier pootjies na alle kante toe en lê met my anker op die koue waterding. Sjoe, maar dis glad nie lekker so met jou kaal pensie en jou anker op die koue nie hoor. Jy kan blaasontsteking kry, ek is seker daarvan. Toe raap ek my pootjies een vir een weer bymekaar en ek kom versigtig regop. Met ‘n bietjie geluk is ek toe weer uit die hardewaterbak. Tannie Tombi lek en lek en kan ook nie verstaan dat sy so min inkry maar sy hou nie op lek nie. Dink seker dis lekker so. Hulle moet liewers vir oom Bernard hier kry. Hy het so’n vaatjie met warm water onder sy nek hang. Dit kan help hier in die koue!
Eks seker dit wat in die vaatjie sit wat om sy nek hang, is baie sterker as die harde water in die krib. Maar ek weet nie of hulle vir my daarvan gaan gee nie. Die laaste ou wat daarvan gedrink het, het glo op sy ore rondgeloop en gesing soos ‘n vuvuzela.
Die lewe is tog lekker
MAPSTIEKS!