Dit is weer so ver. Tannie Tombi kry kleintjies by dosyne. Die eerste half dosyn is al daar. Vyf van hulle is swart soos sy, maar een is baie snaaks. Bruin soos Frommels met die helfte van sy gesig swart en dan ‘n breë swart streep hier op sy rug. Maar ek sê nou maar net hoe dinge lyk. Ek mag nog geen foto’s publiseer nie. Tannie Tombi sê sy wil eers die kinders se hare kam dat hulle beter lyk. Nou is hulle nog te nat en gerimpel en so. Maar kan die goed suie! Dit klink soos ses sentrifugale pompe wat vir tannie Tombi leegsuie.
Die broer Frommels het laas week daar by die sterkman kompetisie gaan kyk. Sy kop het so op en af gegaan soos die manne die gewigte bokant hul koppe uitstoot. Toe sê hy by homselwers: Dit kan ek ook. En hy gaan sluit toe mos aan by die gym. Maar nou sien ek die ding baie goed. Hy kan skaars op sy agterbene bly staan, ek sal eerder glo hy hang aan daai gewigte as wat hy hulle opstoot. Maar nou lyk dit my daar is ‘n ander meisie wat ook daar kom oefen. En dit lyk vir my hy is meer agter die ander meisie aan as agter die oefeninge.
Dansklasse? tune hy my. Wat is dat dan?
Die Frommels, weet nie eers wat dansklasse is nie. Dit gaan so dat jy op die ritme van musiek op en af spring. Voorpote in die lug, op die agterbene in die rondte. En dan word dit eers lekker as jy ‘n meisie in jou voorpote het. So sê hulle. Nou ja, dis gaaf, reken Frommels, laat ons soontoe gaan. Ek vat hom toe na die dansklas studio toe en ons word vriendelik ingenooi deur ‘n baas met ‘n gryns op sy gesig. Hy het nog ‘n ander kleinbasie wat daar by hom is en in sy kortbroek daar rondstaan. Nou maar goed, reken die baas, vir R50 leer ek jou dans. Gaan stap so lank saam met die kleinbaas. En dis toe wat ek en Frommels saam met die kleinbaas agter in die tuin geland het. Daar was die instrukteur hond wat ons nou mooi sou wys hoe om te dans. Hy staan nog so rustig hier in die groen gras wat verdag mooi groen gelyk het, toe gryp die kleinbasie daar ‘n tuinslang en draai die kraan op volle krag oop en korrel vir broer instrukteur. Dit was nou ‘n gesig om te sien. So wild as wat die kleinbasie met die waterstraal heen en weer spuit, so woes dans die instrukteur dat dit bars. Maar dit het vir my gelyk of hy dans om te koes vir die water. Hierdie tyd van die jaar is die water nog glad nie warm nie. En om sommer net so natgespuit te word klink nie vir my na danslesse nie. Die kleinbasie vra nog vir Frommels: Kom staan daar, dan is dit jou beurt? Maar Frommels skud net sy kop dat sy wange so teen sy onderkaak klap en draai toe summier om. So is ons daar uit sonder om te leer om te dans, maar darem ook sonder om natgespuit te word.
En dit is nog nie al nie, maar daar was ‘n ander worshondjie ook wat soos my ma gelyk het. Nou daai grappie dink ek nie dis mooi nie. Ons honde kan baie vat, maar hierdie ding van hot dog begin my al warm agter die kiewe te maak. Moet nie met my praat oor ‘n hot dog nie. Die ding vind sy oorsprong in dieremishandeling. Ek het ‘n versoek gerig aan Green Peace om uiters streng op te tree teen die diskriminerende naam van Hot Dog vir ‘n worsbroodjie. Hulle beplan hul volgende aksie rondom hierdie ding. Maar toe kom daar nou so wragtig ‘n ander joker wat besluit dat pap en wors is die in ding. Dis nou glad nie snaaks nie. Ek rebelleer!!!
Nou ja wat, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!
Nou ja wat, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!