Ghallo
Dit was nou ‘n baie interessante ondersoek gewees. Julle weet mos eks die winkel se sekuriteits hond, shredder en al dies meer. My werksbeskrywing is nie vir my duidelik nie. Daarom doen ek maar alles wat ek kan doen. Toe gebeur dit mos dat daar ‘n ronde pakkie lê, daar op die grond in die huissie met die ronde wit waterbak. Daai water is nie altyd lekker nie... Maar ongeag, ek sien toe die wit pakkie is mooi toegedraai. Suster kat het my al vertel hoe sy dit oopgedraai het en wat die miesies alles toe te sê gehad het. Maar dit was by die huis. Hierdie is by die winkel en dit kan ‘n veiligheidsrisiko wees. So, ek moét die pakkie oopmaak. Afdraai is te veel werk, so ek byt hom sommer in die middel deur. Maar o nee, dis nie so maklik nie. Die ding is nie solied nie, dis los papiere soos hulle hom toegedraai het. Alle wêreld, en hier kom die baas. En sy gesig staan soos moeilikheid. Dit is nie ‘n goeie gedagte gewees nie. My bedoelings is altyd suiwer en skoon, maar hierdie keer moet ek flink dink om hom te verduidelik hoe dit gewerk het. “MAPSTIEKS!!” “ja baas” “Wat de ongeluk het jy nou hier aangevang?” “Dis die ongeluk wat ek wou voorkom dat ek dit aangevang het baas.”
Dit was nie die regte antwoord nie maar dit het die baas so deurmekaar gemaak dat hy verder niks gesê het nie. Gelukkig maar, want die slaanding het hy opgegradeer met ‘n handvatsel aan die einde en dit lyk of hy dit op my wil uitprobeer. En ek doen altyd niks nie. Gaan doen net buite inspeksie en dan roep hy my weer in. Ha, ek het tog lekker vars beentjies daarbuite gekry wat nog na iets proe. Die moet saam binnetoe.
Ek het al ‘n hele versamelplek van goeters wat ek van buite af binnetoe gedra het. Gelukkig weet die baas nie waar dit is nie. Maar ongelukkig, die suster wat hier skoonmaak het daarop afgekom. Toe vee sy alles bymekaar en voeter dit in die vuilgoedboks. En toe ek nou self agterna weer inspeksie daar doen, toe sit miesies Lynne daar langs die boks. Maar dis niks nie. So niksvermnoedend druk ek my gesig in die boks om alles beter te kan sien, toe vat sy hier agter aan my boud. Nou gewoonlik is miesies Lynne baie vrindelik met my, maar hierdie ene kan ek haar nie oornag vergewe nie. Ek skrik my wesenloos want ek weet nie watter monster my van agter bekruip nie. Ek ruk vorentoe en beland binne in die boks. Die boks het natuurlik omgetiep en ek het weer uitgespring. En die baas en die miesies hulle rol amper van hulle stoele af soos hulle lag. Dit was glad nie gaaf nie.
So kom daar so nou en dan ook nog besoekers vir my kuier. Lieschen en Chané het ‘n rukkie met my gesels. Alles vertel van die lewe van ‘n meisiemens hier in Carolina. Dis baie interessant. Veral as hulle skooltoe gaan. Dan gebeur alle dinge tegelyk. Die goeies en die mindergoeies. Maar gelukkig het hulle watersakkies in hul oë gekry toe hulle gebore is. Dan laat hulle die trane loop en lyk of hulle baie hartseer is, dan kom alles vanself weer reg. Dis interessant om ‘n meisiemens te wees. O ja, en as jy nie hardop wil lag nie, dan giggel jy. Giggel? vra jy vir my, ja giggel. Dis soos die hyena se geluid wat hy maak as hy lus is vir kos en kry ‘n dooie perd wat te groot is om alleen op te eet. Moet dit net nie vir my miesies vertel nie. Sy sal my iets aandoen, maar ek weet presies wat maak sy met haar dooie perde. Die hyena’s het my vertel.
Nee, dis veel meer pret om ‘n been of wat uit die grond op te grawe. Die meeste kere grawe jy mis. Veral hier in die blomtuin. Dan is die gat al groter as die blombedding, maar ek sweer die baas het die been daar uitgehaal en op ‘n ander plek begrawe toe hy die blomme geplant het. Nou is hy ook nie gelukkig met my idee nie. Sy eie skuld. Moes hy maar nie die bene uitgehaal het nie.
O vrek, en nou die dag het ek die baas gefire. Dis nog vroeg in die aand. Die volmaan staan nog laag. Die baas maak die deur oop en al vyf van ons storm in die kombuis in. Hy laat ons ook nie langer as 5 minute daar, toe beduie hy: “UIT” Tannie Tombie, die ma en tannie Daisy gaan toe so ewe na die kombuisstoepkamer en ek gaan ook uit. Na die baas se slaapkamer. Daar het die hele misverstand begin. Dis die baas hier agter my: “MAPSTIEKS UIT” asof ek doof is. Maar goed, ek verhuis to na die sitkamer op die sofa, maar die baas begin toe baie snaaks asem te haal. Sy gewone praatstem verander in ‘n pieperige kraakstem opgerev tot amper 6000 toere: “UIT” tjank hy daar vir my. En ek is weer uit na die kombuis, ver weg onder die tafel waar ek in niemand se pad is nie, maar nee. Al blasende en brommende gryp hy my aan my nekvelle en dra my tot die stoepkamer. “OK. ek kry die boodskap, jy soek my nie meer nie, good bye” Nee, nou skierlik wil die baas weer vrindelik met my wees hier buite in die donker. Maar as hy naderkom dan hardloop ek weg. Kom hy nog nader, hardloop ek nog verder. Ons verstaan mekaar mos nie meer nie, mos?
Uiteindelik gee die baas maar op en ek kan rustig gaan slaap. Daar buite in die koue sonder tannie Tombie en die ma. Dit was nie ‘n gawe plan nie. Gelukkig in die oggend het ek en die baas weer vriende gemaak. Ek het maar weer in die bakkie geklim en saamgery werk toe. Maar dit was amper ‘n volskaalse staking gewees. Ek het amper vir die baas getoi-toi
Die lewe is tog lekker. MAPSTIEKS!