Dis more en die son skyn daar buite. Die miesies het uigekom om die perde te bekyk en ek het ingeslip. Met my neus op die grond en eers gaan inspeksie doen of alles nog daar is. Ek sien die baas nêrens nie. Dis eintlik snaaks. Gewoonlik lê hy plat op daai ding met vier pote en sagte lappe op. Ek dink hy lê en lappe trap maar nee hoor, hy is nie daar nie. Nou dan maar eers die spaarkamer inspekteer of alles daar nog allright is. Dit lyk so anderster. Daar was kuiermense in die huis gewees en seker het een daar geslaap. Die kuiermense het twee kinders gehad. Sulke mannetjie kinders nes Toffie en ek. Ons het hulle goed gewoel, maar hulle word nie moeg nie. Nie soos die baas nie. Hy is altyd gou klaar gespeel, maar hierdie twee het ons maklik die res van die dag besig gehou. Dan lê ons vier manne op die kombers op die grond en kruip oor mekaar en doen sulke dinge. Maar uiteindelik het ek aan die slaap geraak bo-op die een mannetjie. Toe ek weer wakker word, lê ek in my eie kooi, by Tombi.
Maar terwyl ek nou oor hierdie dinge dink, en so diep in gedagte is, gaan die deur van die klein kamertjie oop. Dis die kamertjie met die water wat van bo af kom en jou so lekker nat kan maak. Hiert jy, ieieiieiieiieoeoeoeow wat de ongeluk is dié??? Daar kom wrintiewaar ‘n spook uit die kamer. Spierwit bene en lyf, net ‘n lap hier en daar en dit dra die baas se pantoffels in sy hand. Dit ruik na water en seep, dit moet ‘n spook wees. IIIIIEEEOOOOEEEE hier moet ek weg wees. Dis moeilikheid die. Ek ken die kleur van k*k as ek dit sien. Magtig, ek het nie eers omgekyk voor ek in die kombuis gekom het nie. Gelukkig is die ding nie agter my nie. Maar nou weet ek nog nie waar die baas is nie.
O, hier kom die ou nou aan. En hy ruik sowaar soos die spook. “Haai Mapstieks, het jy geskrik?” Sê hy vir my. Geskrik is nie die woord nie. Ek dog my stert kielie my neus soos wat ek hom hier tussen my bene gedruk het. Maar nou, terwyl ons nou aan die gesels is, waar is ons kos? Die baas trek net sy oë so hoog op. “Oeps, ek het gister vergeet om die kos te koop.” “En?” wil ek weet, “Moet ons nou die hele dag winde sluk?” Die baas skud sy kop. Ek kyk hom aan met hierdie een oog van my: “Waag dit net om sonder kos hier aan te kom. Dan byt ek jou in jou been sodra jy die been by die kar se deur uitsteek.” Die baas lyk nie vrolik nie. “O raait, ek sal nou gaan kos haal.” En wragtiewaar, hier kom die joker ‘n rukkie later weer aangery. Ek staan met my neus in die lug om te ruik of daar kos in die kar is, maar ruik net die kar se stinkasem. Toe die baas sy been by die deur uitsteek, wonder ek of ek hom nou maar eers moet byt vir ingeval daar nie kos is nie, maar toe bedink ek myself. En ja hoor, ‘n hele grote sak met kos. Hoekom hulle die goed altyd moet aanry weet ek nie. Hulle kon dit maar net so goed hier laat groei het. Dan is dit baie minder moeite om te gaan haal. Ek sal dit sommer self ook pluk as ek honger is.
Uiteindelik het die baas die sak daar by ons bak. Nou wil hy die ding oopmaak en aspris maak hy baie stadig.
Tannie Daisy is glad nie lekker in haar kop nie. Sy is al baie oud. Sy het saam met Noag op die Ark geklim. Toe klim sy nie daar af nie maar haar bene was so styf dat sy daar afgeval het. Op haar kop. Nou raas haar kop. As sy binne in die huis begin te blaf, dan raak my kop seer. Die baas s’n ook. Dan skrou hy baie lelik op haar.”Daisy!!!!! SHUTUP” Blaf hy dan. Maar sy kan nie daai shutup ding doen nie. Vandag was daar ‘n muis in die huis. Ek is seker suster Kat het die ding hier ingenooi om te kom speel. Die ding het so oor die baas se voet gestrompel. Toe kom die baas dit agter en gryp sy blitsboks. Die ding maak lelike blitse hoor! Maar tannie Daisy glo nie dat die muis gekom het om te speel met die kat nie. Sy het die arme bloedjie so skeef aangekyk en toe dit roer, toe gryp sy hom tussen haar tande en skud so vyf en twintig keer. To los sy die muis daar. Die het nie weer geroer nie. Suster Kat het vir tannie Daisy so ‘n lelike kyk gegee. “Moes jy nou my speelgoed stukkend maak?” So het sy gekyk. Maar ja, dis nou verby. Die lewe is tog lekker
MAPSTIEKS!