En die baas was weggewees na die Kaap toe en het my hier by die plaas agter gelos. Ek is glo die besturende plaasoppasser en ek moet kyk dat tannie Tombi en broer Frommels hulle werk doen. Dis wel maklik want tannie Tombi doen haar werk altyd en broer Frommels luister vir my as ek hom wakker maak. So, as daar iets gebeur, dan roep ek net vir hom en verder is alles sy verantwoordelikheid. Natuurlik het ons baie voornemende boosdoeners en so meer weggejaag hierso, maar die baas glo my nie. Hy soek bewyse. Onregverdig. Ons het die goet mos gekeer nog voordat hulle op die plaas gekom het? Natuurlik is daar geen spore nie, ons het hulle weggehou!
Maar die baas self het natuurlik alle bewyse van wat hy gedoen het daar in die Kaap digitaal vasgelê. Behalwe die keer wat hy amper oor die plaveisel geskaats het met sy kroks. Die langbeenmiesies met my daai storie vertel. Hulle kom glo daar uit die kerk uit en buit reen dit. En die dammetjies water staan so 5 mm op die plaveisel. En hier besluit die baas om soos Petrus van ouds op die water te loop met die kroks van hom. En die eerste been het bo op die water gebly en gegly terwyl die ander nog op solide grond was. Toe split die baas twee kante toe. Gelukkig het die langbeenmiesies hom gehouvas. Hy reken nog dat sy aan hom houvas, toe hang hy klaar aan haar arm. As sy nie so sterk op haar bene was nie, dan het hy haar nog afgetrek water toe. Toe gebeur daar gelukkig verder niks nie. Dink net, die baas kon middeldeur gesplit het!
Daar staan duidelik seehond in sout. Kan gaan sit of kan wegneem. Die hondjie met haar pragtige ogies kan natuurlik sit. Toe vra ek die baas hoekom het hy haar nie weggeneem hiernatoe nie? Hy skud net sy kop. Nee, reken hy, dis nie die hondjie nie, dis die vis. Waar het jy gesien jy kan vis aan ‘n halsbandjie met ‘n leiband wegneem? Die prentjie wys mos die hondjie en die halsbandjie?
Bedrog! Dis alles bedrog en hulle wil hê ek moet dit glo.
Nou ja, die lewe is tog lekker. Ook sonder vis.
MAPSTIEKS!