Jawel, die baas probeer my nou weer nuwe trieks leer. Hy wys my die prentjie van die Labrador Retriever, nou genoem die Lavatory Retriever. Dis ‘n oefening waar die baas in die klein kamer op die wit stoel gaan sit en dan roep hy met ‘n benoude stem: Mapstieks, Mapstieks, bring my daai rol papier gou.
Nou ja, ek en die baas het dit goed geoefen. Dit was tydsame oefening gewees. Ek het myself eers daarvan vergewis dat die papier goeie kwaliteit is. Goed geproe daaraan en so. Later het die baas my baie dringend geroep: MAPSTIEKS!!! KOM NOU!!! en toe bring ek hom die res van die rol wat oorgebly het na die kwaliteits kontrole. Die baas het woes gebrom daarbinne maar verder niks gesê nie. Hy beter nie. Ek het hom dan uit die moeilikheid gehelp!
Well whatever, ek het die triek geleer en die baas het my kwota bene opgeskuif na ten minste 3 bene per week.
Die klein brakke het hul eie idee van die lewe. Hierdie bulletjie wat so by Frommels staan en loer vir die kos, het geleer om oor die muur te klim. Maar dit is ie baie verstandig van hom nie. Broer Frommels sal die outjie net een hap gee dan is hy weg. Hy kan so met sy boeties en sussies uit een kosbak eet, maar sy ma jaag hulle ook al lank al weg. Ek probeer nie eers nie. Dis wat met my laas keer gebeur het. Toe hulle nog 6 weke oud was, toe kon ek hulle goed dress. Maar op 9 weke toe was hulle klaar te swaar vir my en te veel ook. As drie van hulle my pak, dan blaas ek al my asem uit. Dis hoekom ek nou glad nie met daai idee begin nie. As hulle nou ‘n grudge teen my kry, dan sleep hulle my oor twee maande aan die ore rond soos die vorige lot. Gelukkig het die miesies hulle almal verkoop behalwe Frommels wat die baas gehou het. Ek en Frommels kan mekaar nogal goed verstaan.
Nou ja wat, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!