Wholy Moly
Dis baie ontstellend as ‘n hond so in die vuilgoedblikke en anner blikke krap en jy kom op ou goed af. Jy kannie glo wat alles da verborge is nie. Hoe dieper jy krap, hoe meer kom daar uit.
Nou kry ek in die stoepkamer die boek van die baas se troue. Ek kon nooit dink dat hy op ‘n tyd nie getroud was nie. Maar welja, hy het daar met ‘n blom in sy baaidjie rondgeloop asof hy die man van die dag was. Meantime was die miesies die vrou van die dag. Alhoewel sy het so gedink.
Maar dis toe hulle die fodies geneem het wat die baas da rondgeloop het met sy lank dun bene. Dit knik soos ‘n knipmes inmekaar en vou dan weer oop. Lyk soos ‘n ooievaar wat da loop. Maar toe agtermiddag toe is die baas al lelik dors. En die fotograaf (ek weet nie wat hy gegrawe het nie want ek sien geen gate nie) hy beduie toe dat die baas moet bietjie eenkant toe staan want hy wil die miesies alleen met ‘n anner bruid afneem. Dit was baie bedagsaam van hom, maar die baas staan met sy rug na die visdammetjie. En hulle het hom net ‘n glas koeldrank gebring. Toe gee hy so een tree agtertoe en voel da is niks onder sy voet nie. Niemand weet van die hand wat hom in sy rug gekeer het nie. Anners het hy met troupak en al in die visdammetjie gelê. Hy ruk homself aan die koeldrankglas weer vorentoe en drink sy koeldrank verder. “Ja, sê die miesies, nog nie twee ure getroud nie en nou kan hy al nie meer sonder my alleen regkom nie. “ Die fotograaf het op die grond gelê en gate grawe, of gelag of soiets ma hy kon die volgende vyf minute niks afneem nie.
Toe gaan hulle later op die honeymoon. Dit was pikdonkere maan gewees toe hulle wegry, ma so twee weke later was dit baie beter. Maar ongelukkig was hulle da in die Drakensberge. Da wa die kinderkoor oefen om te sing. Dis glo baie mooi daarso.
Maar daar het ‘n groot ongeluk gebeur.
Die miesies het toe nog nooit vertel vir die baas van die perdryding nie, maar op die honeymoon moet sy nou neul aan hom om die trippie van drie ure deur die Drakensberge te gaan toer op die rug van ‘n horse. Die baas dog in sy reine onskuld “Dit kan net vet pret wees. Pleks dat ek die berge moet uithol, sit ek op die rug van die edel dier en hy hol die berg uit. Geen vermoeienis nie, vanaand gaan ons heerlik uitgerus slaap.” Maar iets het die baas glad nog nie verstaan nie. Dit was nie ‘n gawe plan van die miesies nie. Sy stap toe na die toerleier toe en sê: “Twee perde asseblief, vir my sommer ‘n goeie een en vir die baas een wat baie gaaf is. “ Nou die jafel gee toe vir die miesies die laaste twee perde. Daar was geen keuse nie. Die een was bruin en die ander ook nie swart nie. Die miesie het die baas mooi gewys aan watter kant moet hy opklim en gougou sit die baas bo en smile. Dit gaan nou lekker wees dink hy. Maar toe die perd wegry, toe loop alles mis. “Moet die ding so stamp?” vra hy vir die miesies wat langs hom ry. “O nee, jy moet so maak.” Wys die miesies vir hom. Dan lig sy haar boude uit die saal en kom weer terug. In ritme saam met die perd. Die baas het baie mooi gekyk, maar iewers was sy jukebox stukkend. Die perd gooi hom in die lug, dan val hy weer terug. Dis gedurig die ding van: Die perd gaan op, die baas kom af en hulle konnek mekaar in die middel. Vir drie ure lank. Die baas het niks meer gesmile nie. Toe hy afklim loop hy so snaaks asof hy van die see afkom. Sy bene so heel wyd uitmekaar uit en baie versigtig. Die nag het hy op sy maag geslaap en die volgende nag en die volgende....
Shame, die horse se naam was beslis nie Skoffel nie. Moet so iets soos Stamper of Mampoer of watse moer
gewees het.
Vir vier jare lank het hulle nooit kinners gehad nie. Ek weet nie hoekom nie ma so’n toer op die honeymoon lyk my nie ge-sond nie.
Die baas bulle het ook nog da by die berge met die voete rond geloop. Glo by Tugela Gorge. Hulle sê van bo af lyk die wêreld nog heel OK, dan is die rivier daar af ondertoe in ‘n klofie. Dit gaan met ‘n touleertjie tot binne in die rivier, loop daar langs die oewer saam met die rivier af en dan staan jy weer buite in die varslug as jy uit die kloof uitkom.
Maar die touleerstorie was baie moeilik. Die laaste vier treetjies was nie daar nie. Die baas het eerste gegaan en hom stadig aan sy arms laat sak toe die treetjies op was. Ma die miesies vra nog: “Hoe ver is dit nog?” En die baas sê: “Dis die laaste treetjie.” Maar hy’t nie gesê dat daar so vier treetjies kort nie. Toe die miesies voel daar is niks onder haar voete nie en dit was die laaste treetjie, toe los sy maar alles. Karplaks, lê sy op haar rug in die water. Die baas het toe ook maar ingeduik om haar op te tel. Toe was altwee nat. Dit was al ses uur in die aand. Hulle wil nie sê wat het hulle gedoen om met die nat klere by die kamp te kom nie. Ek kan net dink.....
Die lewe is tog lekker. MAPSTIEKS!