Saggies, die kleintjies slaap. Dis weer sulke tyd. Kleintjies grootmaak. Freckles het gekraam laas saterdag al en die baas hulle was met verlof. Vaak kansie noem hulle dit. Dis die enigste tyd wat hulle kans kry om in die openbaar vaak te wees. Dan lê mense sommer op die strand en slaap. Sun tan noem hulle dit. Ek loop die hele dag in die son en tan niks nie. Maar natuurlik trek ek nie my vel uit nie, dit bly net so aan my lyf, maar die mense! Hulle trek hulle velle net so uit, jy sien net die goed waai links en regs. Die eerste keer toe ek die baas uit die stort sien uitkom, het ek my boeglam geskrik. Nie gedink hy kan so van sy velle ontslae raak nie. Dis net een wit gedaante met sy normale gesig daar bo op. Maar die res lyk maar bra glad hoor.
O ja, ek was nog besig om oor Freckels te gesels. Daar is ses kleintjies. Hulle lyk almal soos sy. Hulle sê die eerste 3 weke lyk die babatjies soos die ma, daarna begin dit eers soos ‘n hond te lyk. Ek sal sê maak dit maar gerus 6 weke, want dan is ons op en wakker en kan die hele wereld rondloop. Dis wel interessant dat die wêreld ook groter word na mate mens ouer word. Ek was altyd seker die einde van die wêreld is net so ver as wat jy kan sien. maar as jy dan soontoe loop dan sien jy weer baie verder. Ek het die einde nog nie gekry nie. Dis lekker gaaf hoor. Aan die anderkant van waar jy nie kan sien nie, is daar ander honde wat ook nog familie van jou is. Ons praat gereeld met mekaar oor die land heen. Dis maklik, veral in die nag, dan trek die klank van jou waf baie ver.
Die broer Donar het nou die dag op die plaas kom inspeksie doen. Hy het baie indringende ondersoek gedoen na die verskynsel van verskillende perde op die plaas. Volgens hom is party perde hier rond nie ‘n perd se gat nie. Hy het hulle eers goed geruik en toe gelek en daar kom die verslag: Hierdie perd is fake, dis ‘n donkie. Die donkie stry lewe en dood, hy het ook twee ore, vier pote soos ‘n perd, hy wil perd wees en nie donkie nie, maar dit help niks nie, van nou af weet ons seker, donkie is nie perd nie, hy is ‘n esel.
Die kat het baie groot klagte gehad oor die klientediens in die hotel. Dis wat sy dink wat dit is. En die groot probleem was dat die baas vir homself kos gemaak het hier voor die stoof en die kat het haar stert baie onfatsoenlik sommer in die pad laat lê. En natuurlik het die baas nie sy brille opgehad nie. Toe beland die heilige stert onder sy een voet. Dit was groot geraas gewees.
Maar nou ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!