Frommels is ‘n wizard. Hoe dit gebeur het weet niemand nie, miskien het die perde hom agter op sy kop bygekom, miskien het hy onder die kar gelê en sy kop te spoedig opgetel, of miskien hoort dit so by hom. As dit so moet wees, dan is hy ‘n baie besonderse hond. Die baas reken dis ‘n spesiale soort Great Dane die. Hy het die goudgeel vel, die geel oge soos die leeu, die ore soos die koedoe maar dit hang plat soos die vlermuis se vlerke, en dan die woeste uitstulping agter op sy kop. Dis so groot soos ‘n hoendereier. As Frommels in die nag gaan slaap met sy kop op die grond en die hoenderhen vang hom daar, dan begin sy onmiddellik op die warm eiertjie te broei.
Nou reken die baas daar moet baie ekstra verstand in die ou eiertjie wees. Kyk, al verstand wat die Frommels het is om in die huis te kom en in die middel van die gang te gaan lê op so’n goudgeel matjie wat daar rond lê. Dit maak nou nie saak nie helder oordag, maar hier in die aand het die baas al baie snaakse geluide gemaak toe hy oor Frommels struikel waar die ou lê en rustig verkeer en bekyk die baas hoe hy hier uit die toilet in die donker gang ingeseil kom met sy oge half verblind. Ai Ai ai. Dit was groot lawaai. “Flippen Frommels” skrou die baas “Wat lê jy nou daar in die middel van die gang voor?”
Hy verstaan glo die baas as die baas engels praat of hollands ook nog. Dan sê die baas vir hom: “Wow. You are a beautiful dog.” Volgens hom beteken dit: “Woef, Dit is ‘n arabier volle dag” Dan kom daar baie buitelandse mense by die winkel. Die Nederlanders roep hom Benji. “Wat een lieve hond ben jy!” Dit is wat Frommels alles uit daai knop agter op sy kop haal. Dit mag dalk ‘n tale knop wees.
Maar ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!