Ek het vandag nou weer alles gesien. Die baas is bang om alleen oor die straat te loop, dan roep hy my om saam te gaan. Hy smeek en soebat my eintlik om te kom. Nou ja, dan sal ek nou maar saam met hom stap. Dan weer dink hy ek kan nie loop nie en tel my op en dra my tot aan die oorkant van die pad. Ek is nie blind nie, ek kan sien daar kom niks aan nie. Ten minste nie nou nie. Die goed wat hier in die dorp ry is baie onverskillig. Dit kyk net links en regs maar nie bo en onder op die straat nie. Dis hoekom hulle tarentale wat vlieg raakry en ook ons honde wat hier onder op die straat rondloop. Ek het my hondelisensie betaal en ek het net soveel reg op die straat as hy. Ek is net nie so groot nie.
Maar in alle geval, die lewe met 8 kleintjies is baie vermoeiend. Tannie Tombi wil hê ek moet haar in die nag aflos. Maar dan is ek doodmoeg in die dag en slaap die hele dag. Die klein kaboutertjies maak hulleself vuil net waar hulle wil. En ek moet hulle net skoonmaak. Dan kry ek so ‘n gagga smaak in my mond en dit ruik nie lekker nie. En in die dag as ek dan by die kantoor is, dan wil ek my mond afvee met toiletpapier, maar die baas hou nie daarvan nie.
Hy reken dis nie om jou mond mee af te vee nie behalwe as jy lelik gepraat het. Ek dink sommige base wat so lelik praat gebruik maklik ‘n halwe rol op ‘n dag om die mond kort kort skoon te kry van al die lelike woorde. Maar ja, dit gaan so as hulle gebrek aan woordeskat het. Dan moet hulle elke derde woord ‘n woord soek en dan gebruik hulle maar weer die een wat hulle netnou ook gebruik het. Wys jou wat is op hulle breins!
Dis nou seker ‘n uurtjie later.
HOLY MOLY wie peuter hier aan my pens? Hiert jy dit piep en skwiek en het al vier my pote al in hul bekke. En suie! Die miesies se matwasser kan nie eers so straf suie nie. LOS MY. Jy is miskien blind, maar jy is beslis nie doof nie of is jy? GAATS as ek my pote nader trek, dan trek ek hulle saam maar hulle los nie. En dis net vier van hulle. Die ander vier sal seker ook nou nou opstart. Ja sien jy, daar gebeur dit HAHAHA eks kielierig. Vier houvas my pote en die ander vier suie aan my pens en onder my arms en bene HAHAHA help. Die goeters is te groot vir my. Dis onregverdig. Hulle agt saam weeg swaarder as ek alleen. LOS!
Gelukkig, hier kom tannie Tombi op die geraas af. “Kan jy nou regtig nie eers ‘n uurtjie alleen wees met die oulike kleingoed nie? En wat gaan hier aan? Is hulle besig om jou jas uit te trek? Hoekom lê jy met al vier pote na die vier windrigtings toe? Staan op dat ek daar gaan lê.”
“Ek kannie tannie Tombi, hulle het my oorals beet en ek kan nie los nie”
Die tannie weet presies hoe om die sakie op te los. Sy gryp die vier grootstes een vir een en sit hulle buite bereik neer. Nou kan ek vinnig maak dat ek wegkom met die ander string suiglappe hier aan my pens. Hahaha dit kielie nog steeds. Maar ja, nou lê tannie Tombi en die kabouters raak nou weer rustig
Die tannie se oge is ook toe. Al die kleintjies suie daar aan die melkbottels. Dis wel jare laas dat ek so bietjie melk gedrink het. Miskien moet ek ‘n kans vat en hierdie kleine diksak aan die kant stoot. Dan gryp ek net ‘n paar slukkies net om te proe.
“HAAI MAPSTIEKS WAT DINK JY MAAK JY?”
“Oeps, skies tannie, ek dog ek wou net toets of die melk nie te warm is nie”
“Skoert jou klein twaksak. Jy wil my baba’s se melk steel. En dan dink jy nog ek sal dit nie agterkom nie. Jou tande is al lank al te groot.”
Nou ja, dit wys jou, die lewe is maar bietjie onregverdig vir ‘n klein uitgegroeide foxwors soos ek. Maar ek sal dit onthou. Wag net tot die kabouters groot is en moet pap eet. Dan sal ék vir hulle grom as hulle naby my kosbak kom. Ek as hulle in die baas se bakkie wil klim sal ek hulle uitjaag. Hulle kan agterop saamry in die wind. Maar nou is die goed half heilig. Niemand mag aan hulle raak nie of hulle kwaad doen nie. Wat wou, geniet dit want die moeilikheid lê nog voor.
Laat ek nou maar weer buite gaan blaf sodat die hele wêreld kan weet hier is ‘n groot waghond. WOEF WOEF.
“M A P S T I E K S !!!!!”
O griet, die miesies hou nie van my geblaf nie. En ek dog die baas sê sy is doof. Toe nie. O wel, dan maar iewers plek soek om te lê. Daar binne op die kombers is dit te gevaarlik. Die goed sal ‘n mens lewendig wegdra en dan nog opsuie ook. Dat tannie Tombi nog nie uitmekaar uit geval het van al die suie nie is die miesies se harde werk. Sy voer vir tannie Tombi vyf keer op ‘n dag. En die kos smaak heel kragtig hoor! Die lewe is tog lekker
MAPSTIEKS!