Dis nou lekker om op te staan as dit so koud is. Dan kan jy binne in die huis gou ‘n lekker warm plekkie soek. Maar nee hoor, die baas laat jou nie toe om nes te skrop nie. “UUIIITT” skrou hy dan. Whatever. Miskien moet ek tog maar vir hom wys dat ek my besigheid buite kan doen. Dis nou vrek moeilik die. Ek dink partymaal dis nie reg om so hande viervoet te piepie nie. Dan probeer ek om my een been op te tel, maar dis nog bietjie moeilik. Dan val ek maklik om. Veral as tannie Tombie met haar groot snufferd hier onder my kom ruik wat probeer ek doen. Dan skrik ek sommer my nood weg en laat sak maar my been en loop weg. Bemoeisieke tannie! Kan sy nie haarself bemoei met haar eie sake nie?
Nou ja, dan dink ek weer vanoggend wou die miesies gou weer die heilige perde kos gee. Die blerrie goed kry meer kos op een keer as wat ek die hele week kry! Maar dit smaak nie so goed nie. Die perde se ook so. Dan kom soek hulle by my bak kos.
Maar in alle geval, die miesies maak die perde so drom oop hier in die halfdonker. Toe sing sy daardie hele opera van Lucia de Lammermoor. Of die een van die barbier van Barberossa. Maar in alle geval, weet jy wat ‘n opera is? Die mense trek so snaaks aan en dan steek hulle mekaar met die lang tande en skrou dat die dak lig maar daar is nie bloed nie. Dis wat die miesies ook aangevang het. Nou toe hoor ek tussen al die gegil die woord “Muis!!” en dit het my getiekel hoor. Daar was toe wragtig so 5 muise in die kosbak. Ek se nog vir die baas “Gee my ‘n kans” maar hy wou my daar nie inlaat nie. Hy gryp toe my ma en laat sak haar toe daar in die drom. Toe sing die muise die opera van Hans en Grietjie of Rooikappetjie, maar my ma ken nie die song nie. Sy hap toe hier en daar en die goed klim op haar rug
Nou bietjie later is die baas weg. Nou gaan ek die spieel ding besnuffel. Ag jitte, nou sit suster Kat voor die spieel. Dis nou vrek snaaks, sy sit daar voor die ding en kyk vir die kat wat daar binnein sit. Ja glo my vry, eers was daar die baas en ‘n boetie hond binne en nou is daar ‘n kat wat net soos suster Kat lyk. Maar sy weet dit seker nie want sy het tog haarself nog nooit gesien nie. “Passop Kat, wat doen jy nou?” Sal sy tog waaragtig nie met haar lang poot hier agter die spielding kap en kyk of sy die ander kat kan nadersleep nie. Daar loer sy om die ding en dan weer terug, kap kap weer, loer weer en dan skud sy haar kop. Wag ek sal daar agter gaan kyk. Jy sien, nou wat ek her verby loop is die ander boetie ook weer da. “Skoert jou koue natneus! Ek gaan jou nou kry!” Jes, hier duik en om die spiel en kyk daar agter. Woef, daar is niks nie, net die baas se sokkies en ander lappe. Kyk weer hiervoor, ja hoor, daar sit die ding ook om die draai en kyk vir my. Ek sien hom duidelik maar ruik hom nie. Dis glad nie gaaf nie. Laat ek liewers loop.
Maar die lewe is tog lekker. Mapstieks!