Suster Freckles is pregnant. Hulle wou my eers niks sê nie, maar nou weet ek dit seker. Ek het eers gedink die suster kry baie meer kos as ek. En die baas het haar toegesluit in die hok sodat sy nie so baie moet rondloop nie. Dit het haar nou goed kans gegee om uit te rus en vet te word. Ja, sy is lekker modder-vet. Ek het eers gedink sy maak soos die varkies en sit oorals spekkies op, maar later kom dit by my op dat tannie Tombi ook so gelyk het kort voordat sy Frommels en Angel en die res gekry het. Angel is mos dood. Foei tog. Gif ingekry. Die anner broers en susters van Frommels weet ek nie waar swerf hulle rond nie.
In alle geval, Freckels is heeltemal uit proporsie geswel. Dis nou nie meer net spekkies nie, ek is seker daar broei ‘n hele paar kleintjies uit in haar binneste. Jy kan duidelik aan haar sien sy voel sommer skuldig ook. En as die drie woeffe hier in die kombuis in stap en die vloer vol lê dan moet die miesies groot draaie loop om die logge lywe heen as sy vir die baas wil kos maak. Hulle move nie ‘n milimeter nie en waag dit om op sy stert te trap. Dis nog niks nie, ons honde bêre ons sterte so mooi langs ons lyfies as ons gaan lê of sit, maar nie die kat nie. Die kat het die idee om die stert so reguit in die middel van die vlak te lê. En as die miesies dan daarop trap dan klink dit of die brandweer daar voor in die pad verbygaan. OEEIEIEIOEAAUW. Baie hard dat my ore daarvan seer doen. Ek het al vir die miesies mooi gevra om dit nie weer te doen nie, want my ore kry seer as die kat so jubel. En sing ek saam met die kat, dan storm die miesies vir my ook nog. Dan eers sal die baas opkyk van sy werkie waar hy mee besig is op die laptop en dan sê hy: Rustig nou, rustig nou. Nie dat ek weet met wie hy praat nie, met die kat of met my of met die miesies. Maar gelukkig bedaar dit dan.
Freckels en Frommels het gisteraand ‘n baie lang onderonsie gehad. Frommels het gevra hoeveel kleintjies sy gaan kry. Ek weenie, het sy gesê, dis jy wat hulle gemaak het. Wel, as dit van my afhang dan is daar beslis 16. Nou hukom sê jy so? Dis baie maklik, ek het 4 voete, met elk 4 tone. So as ek tel kan ek tot 16 tel en niks verder nie. Dis die maksimum wat jy kan gaan met die kleintjies
Oraait, ek sal dit onthou. As hulle gebore word, hier na die sestiende een maak ons die deur toe en sit die lig af. Die res moet dan maar wag tot volgende keer.
Dit is nou soos die twee daar onder met mekaar gesels oor die naamding. Frommels staan op en gaan lê iewers in die huis. Hy weet al hier teen slapenstyd moet jy jouself wegsteek, miskien vergeet die baas jou as hy die huis toesluit. Dis baie beter om binne ‘n toegeslote huis die wagrondte te lê as om daar buite die wagrondte te loop.
En toe is dit nou tyd om te gaan slaap. Om een of ander rede mag ons honde nie in die huis slaap nie. Die baas is bang ons mors in die huis. Maar dis nie fair nie, want ek het ook nie gesê hy mag nie buite mors nie. Maar nou ja, die baas staan op en roep vir Freckels: Kom Freckels, ons gaan slaap. Menende hy gaan Freckels nou buite in die hok toemaak. Ons gaan slaap klink mos baie beskaafder. Die baas loop uit, maar Freckels loop in. As die baas buite staan, dan is hy allenig daar. Freckels! Wa’s jy? Die baas loop weer in. Niks in die kombuis nie, eindelik hier in die slaapkamer staan Freckels en wys vir Frommels wat daar op die vloer lê en maak of hy doof is. Ja nê! Altwee van julle UIT!
Klikbek! Grom Frommels vir Freckels maar sy grynslag net vir hom. He he he, ek sal nie allenig buite slaap nie. Jy sal my oppas. Sê nou net die kleintjies besluit om vannag aan te kom, wie sal hulle dan vang? Ja ja ja brom Frommels. Ek hoor jou. As dit so ver is dan jaag jy my tog weg.
Ek moet maar saam met die groot honde buite slaap. Net die katte slaap in die huis. En moenie dink hulle slaap so baie nie. Hulle karjakker die hele huis vol, so dat die baas baiekeer die kombuis se deur toemaak sodat hulle net kan uit buitetoe as dit moet, maar nie in die huis nie.
Maar nou ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!