Ons honde is beslis die slimste wesens op aarde, intelligenter as die mens by verre. Dit is wetenskaplik bewys. Nie die mense se wetenskap nie, hulle bewys net goed wat hulle pas, dis deur ons honde bewys, ons bewys goed wat feite is. Ons honde kan ons eie sterte vang, die mens kan dit nie doen nie, hy het nie eers ‘n stert nie, hy is gedegenereer deur al die eeue heen. Al wat oorgebly het van sy stert is sy stuitjie. Noem dit liewer sy stoutjie, want dis die enigste plek wat gemanupileer kan word om sy verstand te maak werk. Sy oge is so blind dat hy niks in die nag kan sien nie. Ons honde sien in die nag omtrent net so goed as in die dag. Maar die mens moet vuur met hom saamdra om sy eie voete in die donker te kan sien. Van ruik moet jy glad nie praat nie. My neus is so goed as my ore. Ek kan letterlik hoor met my neus waar het Frommels heengegaan. So ver soos wat ek snoffel praat die spore met my. Haai Mapstieks, Ek los hierdie boodskap vir jou so dat jy kan weet ek was hier ‘n halwe uur gelede. Ek het in die noordoostelike rigting geloop en is nog glad nie moeg nie. Terwyl jy kom, bring vir my ‘n been saam Mapstieks. O, hier het ek gou die boompie water gegee, as jy dit ook doen dan kan ons volgende keer onder sy skaduwee rus. Dis ons honde se plig om te sorg dat die bome op aarde groei. Die stoepid mense kap dit net om.
As ons dan van vermaak en sport en ontspanning kom, dan is daar geen mens wat kan kersvashou by ‘n hond nie. Die mense wat so intelligent is hulle gee mos ekstra krediet vir hul kinders wat in sport presteer? Kyk na die sport prestasie beker wat hulle kry, die is drie maal groter as die akademiese prestasie. Dit wys jou duidelik dat akademies ver minder tel as sport. En soos ek sê, met sport kan geen mens die hond klop nie. Uithou vermoë by die mens is amper nie bestaande nie. Ek begin te hardloop met my tong uit my bek en hou dit vol vir die volgende uur. Maar as die baas begin hardloop, dan is sy mond toe. Hy is bang vir die vlië. Maar dan na tien minute gaan staan hy stil en maak sy mond oop en hang sy tong uit sy bek vir nog tien minute. Dan sal hy miskien weer opstaan om te hardloop.
Mure was nog nooit ‘n probleem nie. Ek spring oor waar jy nie oor kan kyk nie. Die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!