Goeie more, nee wat eks nie kwaad nie, ek maak net my keel skoon. Staan voor die spiël en bekyk myself. Wanneer laas het julle ‘n opgedateerde fodie van my gesien? So mooi portret fodie? Wag laat ek grou, miskien kry ek een in die tuin waar die baas hulle begrawe. Nes dit bietjie te mooi lyk vir hom, dan begrawe hy dit. Ek doen dit met die bene wat ek nie vandag kan eet nie en bêre vir die hongersnood. En dit gebeur nogal hier in Carolina. Dan is die blik met kos leeg en die sak ook. As die baas dit dan waag om sonder kos hier aan te kom dan dra ons hom eenparig trug in die bakkie en stuur hom weer dorp toe. Hy weet dit al. Nou ja, sien jy die intelligente uitdrukking op my gesig? Daai lang sexy tong? Dis nou waar die ladies van my hou. Ek kan lek hoor!
Nou het ek hier al die strate op en af gemarsjeer om ‘n goeie oulike meisie op te tel, maar niks hoor. Die goed word deur hul base toegesluit en opgepas soos goud. Hulle weet wat hulle werd is. My baas nie, hy het geen idee wat ek werd is nie. Hy gee my alle vryheid om uit te gaan as hy my nie sien nie. Maar as hy my mis dan skrou hy die hele straat vol. MAPSTIEKS!!!! MAPSTIEKS!!! Asof ek hom nie hoor nie. Natuurlik hoor ek hom maar ek is ook partymaal op ‘n privaat mission.
En ek sê nog so ewe vir haar: Ek kom jou nou nou sien, toe roep die baas my en sluit die winkel se deur net daar agter my toe. Dis sluitingstyd tune hy vir my.
Wat weet hy van sluitingstyd? Gmpfff, hy sal dan nog maklik twee ure na sluitingstyd op sy stoel by die rekenaar sit. En ek is woes honger. Dan skierlik vlieg hy daar op, gryp sy jas en sy kamera en stap deur se kant toe. Gaan ons nou loop baas? Gaan ons nou loop? Vra ek hom. Hy maak of hy my nie hoor nie. Kom Mapstieks, ons gaan nou loop. Ja ja, dis wat ek al twee keer vir hom gesê het.
Gaaf, maak op die deur dat ek gou gou voor ons ry nog vir Tanyia gaan groet. Woerts, weg is ek. Nou waar de drommel het dit klein doedie nou skierlik die afgelope twee ure verdwyn? Sy het daai Houdini triek gedoen. Skoonveld weg.
Dit smaak my die baas daar by die bakkie sing die liedjie van verlange. MAPSTIEKS!!!!, MAPSTIEKS!!! Wag nou baas, eks nou trug, moet nou nie skierlik haastig word nie, ek het dan twee ure na sluitingstyd nog vir jou gewag.
GRRRR EKS TANYIA SE BOYFRIEND. HOEKOM SOEK JY HAAR? HUH?? HUH?
Holy Moly, die broer is kwaadaardig, kyk hoe kyk hy vir my. En hy praat met hoofletters. Wat het ek nou gedoen?
Hatatatatetete, klapper my tande want ek is niks lus vir ‘n onderonsie met hierdie jafel nie. Ek is Mapstieks, die groot journalis van die Koerant en ek wil ‘n onderhoud hê met Tanyia.
ONDERHOUD HE? ONDERHOUD HE? Blaf die brak in my gesig. HIER WORD ONDERHOUD BETAAL. NIE GEHE NIE!
Ek knyp my een oog stadig toe en altwee my ore want die gomtor is baie luidrugtig. Soos die mense wat hier op straat by die winkel verby loop. Ek kan elke woord hoor wat hulle vir mekaar skree van hier af tot by die Spar. Die brak het seker ‘n baas by een van hulle dat hy so hard praat. My baas is doof en ek moet ook maar hard praat laat hy my kan hoor. Veral in die nag as ek hom roep om te kom kyk hoe mooi die maan skyn. En ek kan sing met die maan op die agtergrond. Moooi! Mooooooi! Jy sal dit nie glo nie. Maar dan is die baas heeltemal doof.
O ja, die brak hierso reken toe ek moet eers drie maande vooruit onderhoud betaal sodat hy kan sien of ek wel die klein doedie met haar nog kleiner kroos sal kan onderhou as ons die dag afhak. Nou was dit totaal nie in my gedagte gewees nie. Ek like my vryheid en om al die dames hier in die dorp te plesier met my vrolike opgeruimde geaardheid en welwillendheid. Maar hierdie brak glo nou weer dat ek duistere bymotiewe het as ek vriendelik wil wees met die doedie. Oraait, ek sal my baas ‘n verhoging vra en dan kan ons oor die onderhoud verder praat, maar ek soek ‘n onderhoud met Tanyia.
Die broer het glad nie gedink ek bedoel wat ek sê nie en hier kom hy met een geweldige spoed op my afgestorm. Ek het eers gedink hy wil my die onderhoud kom gee, maar die glimlag op sy uitdrukkinglose gesig het hom verraai. Dis net daar wat ek die baas luid en duidelik hoor skrou: MAPbrakkenSTIEKS kom hier!!!! O sorry, tune ek die boyfriend, ek moet nou gaan , my baas roep my. Die gomtor slack nie af nie, en kom nog volspoed aangestorm. Ek soek my eerste en tweede rat, kry dit nie en trek in derde rat weg met tekkies wat skrou. Toe ek om die draai kom en die baas sien, verminder ek spoed van baie vinnig na ‘n drafstappie. Die volgende oomblik kom die monster om die draai. Hy het gedink ek is lankal weg en kom volspoed daar aan. Die volgende oomblik stamp hy met sy neus in my stert. Op een of ander manier gewaar hy die baas. Hy skrik so groot en skakel oor in reverse sonder om te briek. Ek lag vir hom volbek!
Die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!