Snuf snuif snuf.
Dis nie van ruik dat ek so snuf nie, dis die koue wat my neus laat loop. Dan loop ek agter hom aan, anders loop hy weg, en dit lyk maar woes snaaks as ‘n neus so alleen rondloop.
Van rondloop gepraat, vandag het ons nou baie lekker rondgeloop. Daar doer van die wêreld af en weet jy wat? Daar anderkant is ook nog wêreld. Dis woes afdraende daarso en baie wilde waterstrome om jou pootjies in nat te maak, maar dis wêreld die. Kyk, die baas het besluit dat hy nou bietjie wil gaan stap. Hy stap nooit nie. As ek hom uit die huis sien kom, dan klim hy in die bakkie, en as hy terugkom dan klim hy uit die bakkie. Die heel dag in die bakkie lyk dit my. Dit kan nooit gesond wees nie. Nie soos die miesies nie. Die stap elke dag. Agter die stomme perde aan. Die goed kom aangehardloop as sy hulle kos wil gee, maar as sy hulle wil ry! Dan loop sy omtrent ‘n halwe uur agter die goed aan, Stoffel meen ek, en dan moet die saal nog op sy rug vasgemaak word, anders val hy om. Die saal hou die perd reg op sy pote behalwe as jy hom rol soos ek laas week vertel het. Dit neem al amper ‘n uur. Daarna gaan ry die miesies so ‘n halwe uurtjie en kom weer terug. Toe is dit afsaal, perd in die veld sit en so meer. So het die miesies al maklik ‘n paar kilometer agter die rug. Sy kan goed loop. Maar die baas glo ek nie kan so loop nie.
Maar sy kop raas vandag. Hy sê: “Kom, ons gaan stap” Wat hy daarmee bedoel het weet hy seker nie, maar hy begin met die afdraende loop ding.
Eers kom ons hier by die perde verby. En daar het een van hulle wrintiewaar weer ‘n landmyn geplant net waar die baas moet loop. Ek besluit toe soos ‘n opregte waghond: “Die ding moet uit die pad uit voordat die baas daarin trap!” En ek sleep die ding met my bek netjies weg hoor. Jy kan seker beter vat met jou hande, maar ek vat met my bek, dan het ek vier pote om te trek en dan is ek baie sterk.
Die baas en die miesies klim nou hier deur die drade en daar oor die drade, nie soos ek nie, ek loop net reguit aan, ek steur my nie aan die drade nie. Die baas is skoon snaaks hoor. Die drade het sulke dorinkies aan. Sy broek gryp dan die dorinkie vas aan die onderste draad. As hy dit losmaak, dan gryp sy baaitjie die dorinkie vas aan die boonste draad. So sukkel; hy om deur die drade te klim.
Maar toe kom ons later by sulke gate in die grond. Daar woon anner goeters. Dis seker gatgrawervarke of so iets. Maar dit lyk nogal interressant. Maar die baas wil nie dat ek en Toffie daar in gaan nie.
Hier is nou ‘n plek waar die krib oorloop. Jy sien nie die krib nie, maar die water loop die wêreld vol. Of eintlik so al met die pad langs af. Tannie Tombi maklik daardeur loop. “Kom” beduie sy, “Dis net enkeldiep” En ek en Toffie bars volspoed in daai enkeldiep water en verdwyn tot oor ons ore daarin. Weet jy hoe moeilik dit is om daai slap flapore van jou plat te trek teen jou kop dat die water nie daarin loop nie? En dan moet jy nog jou neus bo water hou ook, anders loop die water al by jou neusgate in en af tot ondertoe waar jy dit nie wou gehad het nie. Toe ek nou weer aan die anderkant kom, beduie ek vir tannie Tombi baie mooi dat haar enkels lelik en krom is as hulle nog bo die water uitsteek waar ek amper in versuip. Sy lag net vir my en ons hardloop maar weer agter ons neuse aan.
Skielik hoor ek die baas: “Tombi, Mapstieks, kom!” Die arme baas is bang alleen. Nou ja, alleen is hy nie, maar saam met die miesies, maar tog is hy bang. Kom laat ons maar weer terug loop om te kyk of alles nog goed gaan. Weer deur die water. Maar hier is net riete en dit lyk soos daar is niks nie, maar dis vol water hoor. Jy moet onder die water deur loop om aan die anderkant te kom. Kort kort steek ek my neus bo die water uit om asem te kry, dan sak ek weer af dat my voete by die grond kan kom en so kom ek wel oor.
Aan die ander kant staan hier nog twee ander perde vir ons en kyk. Maar dis nie perde nie maar hulle lyk soos Stoffel. Grys met wit om die bek. Seker heeldag meel geëet. Die goed is baie slim. Hoekom sê ek so? Wel die Stoffelperd praat net met een lettergreep: “Hiiiiiiiiiii hiiiiiiiii” En die koei sê net “mooooeeee.” Maar hierdie ding het twee lettergrepe in sy woorde as hy praat. Dan sê hy: “AAAA iiiiiii AAAAAA iiiiiii” dit klink soos hy suig die iiiiii in en stoot die AAAAA uit. Baie intelligent. Hy kan gerus by die ambulans gaan werk. Weet jy wat klink ook so? Dis die Vuvuzela. Die mens wat hom het, blaas net daar in, maar as hy daardeur terug-suie, dan sal dit net so klink. Probeer maar. O, het jy nie ‘n vuvuzela nie? Jammer.
En toe draai ons om en gaan terug. Die baas is seker moeg en die son wil al sak. Nou blaas die baas soos ek altyd blaas. Ek wys hom mooi: “Laat hang jou tong uit jou mond, dan blaas en suig jy: Hegehegehe.” Mooi, die baas kom oulik reg.
Maar wat is nou fout? Hy trek sy gesig so snaaks. Hy sê vir my: “My maag is seer” My maag sou ook so seer gewees het as ek alleen so baie biltong geëet het. Hy het my nie eers een stukkie gegee nie. Kyk, hier is ‘n lekker plekkie, lang groen sagte gras, boom en struike. Hier kan die baas gaan sit.
Maar wat ruik ek hier? Kom tannie Tombi, kom, hier is ‘n ding. Passop baas, hier is ‘n ding. Maar die baas is nie bang as sy maag seer is nie. Hy wil eers van die krampe ontslae raak. Maar die ding hier in die struike staan nie stil nie.
O O O, gaats, dis ‘n bietjie groter vark. Maar ons vier honde sal hom gou hier verwilder. Hiert jy, skoert, gaan diekant toe. Maar die ding is dom soos grond. Hy kom reg op ons af en brom en grom. “Gee pad. Waf, woef gee pad baas!” Die baas gee net so een kyk oor sy skouer daar waar hy sit en skielik vloog hy daar op. Hy houvas sy broek met sy hande. Hoekom weet ek nie want hy het mos ‘n belt vir die werkie? Of wou hy die belt afhaal om die vark te slaan? Gelukkig verstaan die vark die situasie baie mooi en vat ‘n ander
koers by die baas verby en na die miesies se kant toe tot hy weg is. Magtig, dit was so hittete of die vark was met die baas se broek daar weg. Laat dit vir hom ‘n les wees om nie in die veld die belt so los te maak nie!
Na nog baie blaas en hyg kom ons eindelik weer by die huis. Dis al amper donker.
Die lewe is tog lekker
MAPSTIEKS!