Waf Woef ...
Nou raak hierdie dorp vir my al hoe kleiner. Ek weet al hoe meer die weg hier in die dorp. Hier aan die oorkant van die pad is die poskantoor en die magistraatskantore. Departement van volk en vaderlandsake of so iets. Maar ek het al probeer om uit te vind waar my geboortesertifikaat is, maar daarvir het hulle my ma en my pa se geboortesertifikate nodig. Dis nie so maklik nie. My ma s’n kan ek dalk nog kry, maar my pa weet ek nie waar is hy vandag nie. Miskien is dit makliker om ‘n doodsertifikaat van hom te kry as ‘n geboortesertifikaat. Snif.
O ja, die poskantoor. Ek wil elke dag diekant toe gaan om pos uit te haal maar die baas glo my nie. As hy my kry aan die oorkant van die pad dan skrou hy op my dat ek moet terugkom. Dan is ek onmiddellik blindelings gehoorsaam, min wetende dat die verkeer op die oomblik dalk nie veilig is nie. Dan moet ek my ruggie so hol trek as die karre hier agter my verby ry. Dis nogal moeilik om reguit oor die straat te loop as die baas aan die oorkant staan en jou aandag aftrek en die karre zoef so die een na die ander links en regs by jou flap-ore verby. Ek kan nie opstyg met die goed nie al lyk dit miskien so!
Nou vandag het dit vroegoggend gereën en die baas het besluit om sy bootse aan te trek. Dis reusagtige skoene waarmee hy lekker op die nat strate kan loop. Nie dat hy so baie rondloop nie, maar die vir die verbeelding.
Maar nou is hy met drukwerk besig en dan in die kantoor en dan trug na die drukker en ek is maar so agter hom aan. As hy nou bietjie langer by die drukker parkeer, dan waag ek dit ook om daar by hom te gaan lê. Dit lyk my hy is dan totaal onbewus daarvan dat ek daarso lê. Dit maak nou nie regtig saak nie, maar dat hy ook totaal onbewus is dat hy die paar park-plat-trappers aanhet en daarmee op my stert wil parkeer, dit is nie gaaf nie.
Gelukkig het ek ‘n ingeboude fluitjie en ek sree onmiddellik: TJIEWIETJIE
Die baas kyk verbaas links en regs agtertoe maar gewaar my nie onder sy nommer 11 kanoes nie. Hy voel my niks nie. Skielik gaan die ligte daar by hom aan en hy tel sy lompe voet op. Eindelik kan ek nou my liggaamsdeel wat daaronder vasgevang was weer in orde kry. Die baas bekyk my van alle kante. “Swaai jou stert!” ek swaai my stert. Nee wat, dit lyk nog heeltemal OK. Hy weet nie ek swaai dit so om dit koud te kry. Eina, dit was seer! “Tel jou pote op!” Ek tel my pote op en val plat op my pens. Dis mie maklik om al vier jou pote op te tel en nog bo te bly nie. Jy sak dan vanself ondertoe.
“Ja, sien jy, jy’s nog heel Ok, glad nie nodig om so te tjank nie.”
Silly baas. Jy weet, ek is mos sy beste pêl. So het ons afgespreek met mekaar, amper voor die magistraat. Maar nou verneuk hy my. Daar is die kinders van Tombi en hulle is nou al net so groot as ek net baie vetter. En dit klein monsters trek sy aandag nou baie meer as ek. Dan vryf hy hulle lyfjies asof hulle dit kan waardeer. Hulle kreun en steun soos hulle eintlik nie weet wat om daarmee te doen nie. En of ek nou sy hand gryp in my bek en dit daar wegtrek, dit help niks nie, hy wil hulle vryf. Verneuker!
O en eergister besluit die Frommels gedoente mos hy wil saam met Tombi by die buurman gaan kuier. Die buurman se hond was by ons en Tombi wou hom net teruggevat het. Dit was net na ontbyt, nog nie half agt nie. Ek is toe maar saam met die lotte om te sien dat alles goed gaan en Tombi weer terugkom. Maar die klein Frommels met sy kort pootjies draf ook al die pad saam.
Die baas het inmiddels onrustig geword. Nie oor my nie natuurlik, want hy ken my, maar oor die klein mormel. En so wragtig kom soek hy ons hier op die plaas. Hy reken hy het meer as ‘n kilometer geloop en soek vir ons, toe eindelik sien hy ons daar onder. Ek weet toe nie of ek die baas kan vertrou so allenig in die veld nie, en loop eers ‘n wye draai om die ou. Maar gou sien ek dat Tombi en die baas vir Frommels soek. Die klein blikemmer het toe in ‘n erdvarkgat in geval. Die booslike goeters dink nie mooi as hulle hul gate grou nie. Die ding se dak het ingesak en Frommels daar binne in. Jy sien niks en hoor ook nie veel verder as tien meter nie. Maar gelukkig het ons geweet daarvan en wys die baas toe waar die klein gedroggie sit. Die baas skud net sy kop en trek vir Frommels uit die gat uit. Hy sit hom op die grond neer en sê: “Kom ons loop huistoe” Maar ek dink Frommels het reeds te ver geloop hiernatoe en hy val eintlik oor sy eie pote soos wat hy struikel om te loop. Toe tel die baas hom maar op en dra hom die hele pad huistoe. As dit nou ek was, dan het hy my seker gelooi, maar die klein Frommels drommel dra hy sonder om te raas. By die huis sit hy hom weer neer en daar sit die ou op sy blaker. Hy kyk sy boeties en sussies so op en af en beweeg nie veel nie. Hy moet eers nog bykom. Dit is soos wat die baas my verneuk met die klein gedroggie.