Groef Woef
Onnosel is niks nie maar stupid! Die tannie Tombie het nou regtig geboorte geskenk aan die stupidste honde wat ek nog ooit gesien het. As jy nou daar kyk, die klein monsters wil nou saam met die ma van hulle uit die kosbak eet. Hulle dink nie daaraan dat die bek so groot is dat hulle net so daarin kan verdwyn. Tannie Tombie se oge is ook nie so naby haar tande dat sy kan sien wat sy doen nie. Sy sal net dink daar’s ‘n klont in die pap en woerts warts weg is dit. Nou moet ek hierdie onleerbare goeters oplei in die kuns van hondwees.
Die een dom teef met die naam van Engel, gaan sit op haar boude reg voor die kar terwyl die ander darem verby loop. “Engel, staan op jou dom klein tewerasie, as jy met die kunste aanhou, dan gaan die kar jou nog trap lank voordat jy ooit by die pad uitgekom het. Uiteindelik kry ek haar darem so ver dat sy beweeg, nou sommer by die res verby uit haar plek uit. Maar dit moet ek haar tog gou bybring.
Kyk nou net daardie ander grys gevlekte dom druif. Wat was sy naam ook al weer? Woefstieks as ek dit nog reg onthou. “ Sal jy nou vir my luister Woefstieks! Hierdie flappe aan die kant van jou kop is nie ornamente nie, dis ore en jy kan dit flap as die vlieë daar binne in kruip, maar anders is dit daar om mee te luister en as jy klaar gelui-ster het, dan moet jy doen wat ek sê, anners trek ek jou aan hierdie flappe wat ore genoem word!”
So, hy het nou ‘n behoorlike les weg waaroor hy die volgende uur goed oor kan nadink. Dink doen hulle goed. Dan sit hulle so op hul agterstewe en kyk doelloos reg voor hulle uit totdat hul oge toeval en hulle self omval. Dis harde werk om te dink. Jy val daarby om as jy hard genoeg dink.