Oeioei Oeioei
Amper was ek nie meer Mapstieks nie, maar Platstieks. Jy weet, hier by ons in hierdie groot dorp ry die vragmotors soos olifante in die straat. Dis toe die baas hier oor die pad loop om goed uit die winkel uit te dra, dat ek mos so ewe niksvermoedend agter hom aanloop. Ek kyk nog links en regs en sien niks hier naby wat snaaks lyk nie. Die baas sê: “Kom Mapstieks!” Ja, ja, ja. Jy met jou lang bene kan lekker praat, ek het nou wel vier bene om op te loop, maar hulle is baie korter. Toe kom daar skierlik uit die niks so ‘n moerawiese groot vragmoter aangery. Die baas se: “KOM HIERSO!” Nou weet ek nie of hy met die vragmotor gepraat het of met my nie, want gewoonlik praat hy nooit so hard met my nie. En die vragmoter kom. So, dit moet seker met die vragmoter wees wat hy praat, en as die monsterding kom, dan wil ek nie by wees nie. Die lawaai wat die ding opskop, is dat nou nodig? Die hele wereld bewe soos wat die ding dreun en raas. Hule moet dit onwettig maak. Ek gaan maar gou-gou weer terug na die kant waarvan ek vandaan gekom het. Daar ken ek die wereld. Maar oeps, die stupid vragmoter briek ook nie vir ‘n mens nie. Hiert jy, amper ry hy met sy wiele oor my heilige stert! Die monster ontsien nie ‘n lewende siel nie, hoor. Gelukkig het ek en die baas met die bakkie op die plaas hierdie ding al ge-oefen. As ek onder daai wiele beland en hulle ry al twintig bo-oor my, dan is ek so plat soos ‘n pannekoek as hy klaar is. Hoe gaan ek dan myself weer bymekaar kry om op te staan? Ga, dis niks vir my nie, hoor!
Oeps, daar kom die baas. Wat laat my nou dink hy het nie met die vragmoter gepraat nie? Hy kyk vir my woes kwaad aan en noem my twintig nuwe name waarvan ek die helfte nie kan ontou nie. “Jou simpel, sopkop, onnosel, twaksak, bangbroek, flapoor, vlermuis, langlaagte, bruinoog gedroggie, koerant se skinderbek, mapflippenstieks....” en al dies meer wat in my karakter inklim. Ek gee die baas een kyk, en besluit om maar lie-wers niks terug te sê nie. Dalk is hy hier en daar reg. Maar die lorries moet hulle onwettig maak. Totaal verbied. Ek’s seker hulle ry baie mense en diere dood.
Die miesies het toe besluit om vir Serengeti weg te ry tot by Platorand. Toe hy terugkom, toe vertel hy my wat daar met hom gebeur het. Arme perd.
Hulle het eers die miesies en haar saal ingeweeg. Glad nie meer standaard nie. Sommer heavy weight. Serengeti het my nog gesê hoeveel dit was, maar ek mag dit nie hier herhaal nie. Sy sal my bykom met die besemstok. Maar Serengeti beweer hy het nie geweet sy word so swaar nie. Hoe verder hy haar dra, hoe swaarder sy word. Hier voor die rit het sy op ‘n eetstaking gegaan, maar nadat sy ingeweeg is, het sy woes begin in te lê. Sommer sakke vol padkos en hoe verder hul ry, hoe meer eet sy en hoe swaarder word dit. Maar moenie dink dat hulle nou doelbewus iewers heen gery het nie, hoor, nee, sommer net in sirkels rond. Gaan amper so 30 kilometer ver, kom terug kamp toe, gooi hom sopnat om koud te word, gee hom een hap voer, gaan sien die veearts. Dan kyk hy die veearts so smekend aan: “Toe, sê vir haar dis nou genoeg?” Nee hoor, “Laat jy gaan” Daar gaat hulle weer. Gou nog padkos opgelaai. Nog 30 kilometer. Kom terug, dieselfde storie. Dêm. “Laat jy gaan!”
“Wat het ek dan gesondig dat ek die hele dag hierdie gewig moet rondra?” “Kyk Serengeti,” vertel ek hom: “Dis omdat jy hier by die huis nie die veld afeet nie. Jy staan en wag vir die miesies om vir jou kos aan te dra, jy word vet en fiks van die oefening wat sy jou gee, en nou is dit sulke tyd. Jy moet liewers hier iewers in die veld bly staan. Dan eet jy die kos wat daar groei, dit is genoeg. En dan laat jy jou ore heeltemal hang soos die donkie as die miesies na jou toe aangestap kom. As sy dan daai opklimding doen, dan sleep jy jou voete soos Stoffel en dan sal jy sien, sy sal jou los.” “Haai nooit nie, sy het gesê sy verkoop my aan die krokodilleboer as ek nie my sokkies optrek nie!” “Nou ja, dan moet jy dit self weet, maar dan moet jy nie by my kom kla nie!” “Ja, maar ek het nie geweet sy gaan heavyweight inskryf nie!”
Agter alles het hulle nie so sleg gedoen nie. Hy het eintlik sesde gekom. Nie omdat hy so stadig geloop het nie, maar omdat die miesies so stadig was om by die klok te kom. As sy nie haar voete gesleep het nie, dan was hulle vyfde gewees. Presies 6 sekondes agter Thys Uys. En daai broer is nou swaar, hoor. Sy kon hom maklik ingehaal het nadat sy van die perd afgeklim het. Die ou kan beslis nie vinniger as sy hardloop nie. Maar sy het natuurlik aan die klets geraak onderweg en hy het haar aandag afgelei en toe is hy eerste by die klok. Kos haar ‘n hele plek.
Maar goed, sal volgende keer beter oplet.