Dit was nou die langbeen meisiekind wat die baas se kamera geneem het en van ons ‘n paar oulike kiekies gemaak het, maar toe ek die kamera wou vat om van haar kiekies te maak toe is dit: “OH nee Mapstieks, dis net wat jy dink, maar dit gaan glad nie werk nie. Jy sal nie die kamera in jou pootjies kry nie, ook al wil jy. En dan nog, dan draai ek om.” So was dit. Ekt geen kat se kans gehad om haar te snap nie.
In alle geval, die kleinsus Engel het toe besluit dis ‘n gawe bak die. Toe gaan speel sy nou die bakhond. Sien, daar het sy haarself tuisgemaak in die kat se bak. Daar waar suster kat haar dinge doen. Gah! As Engel geweet het wat alles in die bak gedoen word, dan sal y nie daar bo op gaan lê nie. “Baas, baas, kom kyk gou wat die klein mal brak waar jy so baie aandag aan bestee nou hier aanvang. Sy is van haar sinne beroof of sy het nog geen sinne gehad nooit nie!” “Ja ja, “ sê die baas “Ja ja, ek sien dit al lankal, ek sal dit digitaal vaslê en dan kan jy daaroor skinder. Dis mos wat jy wil doen?” “Wat? Skinder? Ekke? Nog nooit nie, ek noem net die feite.”
“O ja?” vra die baas. “Die moeilikheid is dat alle feite in die lewe nie altyd almal aangaan nie en dan wil jy dit in die koerant uitblaker.” “Maar dis hoekom die mense die koerant koop baas. Om te sien dat dit nie net by hulle altyd so snaaks gaan nie maar by ander ook. Dan voel die lesers ten minste ook beter.” “Hmmm” sê die baas. “Nogal ‘n geldige argument die. Laat ons kyk wat se nonsense jy nog meer kan opspoor met jou spits neusie.”
“Jy kan maar try, eks nie bang nie.” reken sy. “Jy kan bang gemaak word!”
“Jy en wie sal my bamgmaak soms?”
Suster Kat het hierdie helder verklaring van my nie verwag nie. Sy oordink die saak baie stadig soos altyd. Te stadig na my sin. “Engel, Engel, kom kyk gou hier!” roep ek die liewe ou klein hondjie. Ek sê nou klein, maar die gedroggie is al tweemaal so groot soos ek.
Dis soos blits wat alles die volgende paar oomblikke gebeur. Soos blits storm Engel met haar logge liggaam op haar lompe pote na die canopy toe. Soos blits gee suster Kat pad na die kant wat die veiligste lyk, dis nou my kant, en snol weg.
Die lewe is tog lekker.
MAPSTIEKS!