Is dit daar by julle ook so koud? Die baas het al baie klagte hier ontvang van mense wat sê daar by die slaghuise word die deure van die koelkamers in die nag oopgelos. Ek dink hulle praat snert. Ek het al gaan kyk by die slaghuise langs om te sien of ek nie so ‘n stukkie wors wat afgeval het kan optel in die koelkamer nie, maar daar is geen deur daar oop nie. En met hierdie koue is sal so ‘n stukkie wors van ‘n halwe meter heel goed afgaan.
Miesies Nel het die Serengeti perd opgelaai en verdwyn en sins laas week nog nie weer teruggekom nie. Ek het die baas gevra wat het van die miesies geword en die perd. Of die twee nou na warmer plekke gegaan het om daar te oorwinter. Die baas reken die miesies ry die perd op Fauresmith en volgens hulle daar is dit nog kouer as hierso. Hue hulle dit uitwerk weet ek nie. As die water hier ys dan is dit koud. As dit daar ys is dit ook koud. Hoe kan jy nou weet hoe koud dit is? Met die warm is dit baie makliker. Ek kyk net na tannie Tombie hoe ver haar tong by haar bek uitsteek en hoe vinnig sy asemhaal, dan weet ek presies hoe warm dit is. Maar met die koue kan jy dit nie waag om jou tong uit te laat hang nie. Dit sal stokstyf bevries!
Maar toe vra ek mos die baas of ek nou maar op die miesies se kant van die bed mag slaap daar onder die komberse bo op die warm kombers. Ja, ek het dit al agtergekom. As die baas laat werk om die koerant klaar te druk, dan slaap ek solank bo op sy komberse maar ek voel goed dit word warm hier van onder af. Geen wonder die baas wil nie in die oggend opstaan nie. Toe vra ek of ek maar op die miesies se kant by die baas kan slaap maar hy wou toe niks weet nie. Snaaks nê? Iemand moet tog oppas dat daar dalk nie ‘n verdwaalde ander mens langs die baas inkruip nie. Stel jou voor dat Fommels daar inkruip, dan lê die baas beslis op die matjie want Frommels sal al sy vier pote so wyd as moontlik oopmaak om daai warm kombers heeltemal te benut.
O die Frommels, dit was nou ‘n lelike storie. Toe die baas gister by die huis uitstap om werk toe te ry, toe sien hy Frommels daar op drie pistons loop. Die vierde een het nie gefire nie. By nader ondersoek blyk dit dat Frommels homself lelik gesny hetaan een of ander skerp yster. Dit was ‘n diep sny en lank ook. In sy bo-been, daar waar dit skuins is. Die baas haal toe die langbeen miesies om vir Frommels te houvas en probeer om die gat in die been toe te bind. Dit het nie gebloei nie. Frommels is so lui, as jy ‘n gat in hom maak dan bloei hy nie. Maar die skuins been van Frommels het nie gewerk om die verband op vas te maak nie. Toe die baas die pleister daar om draai, toe sak alles weer af. Eindelik besluit die baas om Frommels net so op te laai en saam te vat hospitaal toe. Hy steel tannie Tombi se halsband en vra vir Frommels mooi om saam te kom. Maar die gat in sy been het Frommels se gehoor geheel en al aangetas. Nou is die baas nie die ligste baas in die dorp nie (gelukkig ook nie die swaarste nie) en hy trek saggies aan die halsband. Frommels se gesig trek ook op ‘n plooi maar die baas is te gewigtig vir hom. Toe die Frommels agter die Combo kom, toe sit die baas sy voorpote in die Combo en sê: “Spring” maar Frommels is doof. Dit maak ook nie saak nie. Die baas is baie sterk. Hy tel hom toe hier onder sy pens op en sit sy agterpote ook in die Combo. Maar toe het die baas nie tyd om hospitaal toe te ry nie en vra die langbeen miesies om daai ding te doen. Jaseker sê sy en sy doen dit toe. Maar daar in Ermelo by die hondehospitaal wou Frommels glad nie uitklim nie. Die Nelleke praat mooi met hom en raas en trek maar die langbeenkind is baie ligter as die baas en Frommels het vier voete waarmee hy vasskop en sy net twee. Later kom die veearts en spuit die Frommels in sodat hy vaak word en dra hom in met ‘n kombers. Toe was dit skeer en opereer en elke ding om die gat weer toe te kry. Maar toe Frommels nou weer bykom, toe like hy dit baie in die hospitaal. Die langbeen miesies roep hom en praat mooi met hom daar tussen al die ander patiente, maar hy hoor niks nie. Sulke mooi klein hondjies en katjies het hy nog nooit bymekaar gesien nie. Nelleke sing en fluit en raas maar hy roer niks nie. Ander honder sou al volspoed by die dokter weggehol het, maar nie Frommels nie. Eindelik is daar een van die ander miesiese wat ‘n sak met kos gehad het en dit voor sy neus hou. Toe besluit hy dit moet hy inspekteer. En met die reverse die miesies en Frommels saam. So het hulle by die kar in die parkeerplek gekom. Maar toe moet Frommels weer daar in. Selfde storie, mooi praat, voorpote eers inlaai en die langbeen miesies stoot die Frommels van agteraf. Maar hy wil niks weet nie. Uiteindelik kom die veearts weer en gee hom die laaste hupstootjie. Dankie tog, Frommels is weer terug met seer poot en al. Die aand toe die baas en die langbeen miesies Nelleke van die dorp af terugkom, toe bring die baas die sakkie met die lekker beentjies. Ek dog ek gaan iets kry. Maar die baas sit alles voor Frommels neer. Sy been is seer maar daar is niks verkeerd met sy mond nie. Hy het so wild tekere gegaan dat ek my lewe moes waag om daar tussen sy tanne ‘n beentjie weg te gryp. Gelukkig het ek een gekry.
Maar wat ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!