Nou lag ek te lekker. Tombi het die baas se vingers amper afgebyt. O ho, dit was ‘n grap!
Die baas kom by die huis nadat hy weer iewers gaan uit eet het. Ons eet altyd uit die bak uit, maar as die baas gaan uit eet dan eet hy nie uit ‘n bak uit nie, maar van ‘n bord af met mes en vurk en so. En hy het heel goed kos gekry, dit kan ek sien aan sy pens. Die was trommeldik geswel. Maar nou kom hy en ‘n ‘n klein plastiese sakkie het hy nou lekker oorskiet beentjies saamgebring. Doggie bag noem hulle dit glo. Maar nou met ek ernstig met die restaurant gaan praat waar hulle ge-eet het. Die beentjies was ten eerste maar klein. Ek weet nie of dit ‘n hasie was of ‘n klein lammetjie wat die baas daar gekry het nie vir ribbes, maar dit was klein beentjies. En toe die baas dit nou uit die sakkie uithaal, toe ruik tannie Tombi mos dit ruik na lekker kos. Nie pille nie. Maar Frommels was al dadelik met sy groot neus ook daarby. En dis toe wat tannie Tombi bevrees geraak het dat sy niks gaan kry nie en sy hap nog voordat die baas dit vir haar kon gee. Toe kry sy sommer ‘n die baas se vingers ook in haar bek. En die beentjies was ook so klein dat sy nie weer haar bek wou oopmaak nie, want dan sal dit uitval. Toe moes die baas maar sy vingers uit haar bek trek. Amper het sy velle daar agter gebly. Maar daar was meer vleis aan sy vingers as aan die ou beentjies.Gewoonlik sny die baas die vleis van die beentjies af met sy lang swart tand wat aan sy belt hang, maar hierdie beentjies het hy beslis in sy hand geneem en skoon afgevreet. Dit moet ek vir die restaurant vertel. Hulle moet verbied dat die mense die kos met hul hande eet.
O en toe het die baas nou weer ‘n ander idee gekry. Hy het hierdie hondepille wat hulle Bob Maartens noem nou somer getry om meer voema te kry. Dit het nogal heel OK gelyk in die aand voor hy gaan slaap het. Hy het harder gesnork as altyd. Maar die oggend toe hy sy neus by die deur uitsteek, toe lyk hy vir my baie soos Frommels. Ek kyk eers agter my om te sien of Frommels nog oraait is, maar Frommels lyk nog soos altyd. Toe kyk ek weer voor my en ja, die baas lyk nog net so snaaks. “Baas,” probeer ek versigtig, “Baas, is jy OK?”
“Wat bedoel jy is ek OK, natuurlik is ek OK waf ” grom die baas. Dit was nou glad nie gaaf om die baas so te sien nie. Netnou duik hy met sy snoet in ons selfvoerder kosbak en dan is daar vir ons minder kos en moenie dink dat die Miesies vir ons die baas se ontbyt gaan gee nie!
Eindelik draai die baas om en loop weer binnetoe. ‘n Halwe uur later verskyn hy weer in die deur, maar toe lyk hy amper weer soos die baas altyd lyk. Phew, het ek geskrik oor daai gesig!
Ja, en dan was daar nog broer Pluto. Jy sien hy lyk soos tannie Tombi maar dan baie groter. Hy het altyd gedink die baas het vlooie of bosluise en dan knibbel hy die baas met sy tanne sodat hy die goeters in hande kan kry. Dit was oraait as die baas sy baadjie aanhet, maar as die baas net in sy hemp daar sit, dan het broer Pluto nogal sy velle daar onder die hemp tussen sy tanne gekry. Dan skrou die baas baie hoog en laag. Dit is soos wat ouma Daisy my vertel. Sy ken al daai stories want sy is al horingoud. Ek kan haar nie meer tannie roep nie, maar sy moet nou ouma wees.
Maar wat ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!