Die koue het nou met mening toegeslaan. Gelukkig laat die baas ons so bietjie in die aand en weer in die oggend by die kunsson staan. Dit maak ‘n man se lyfie so warm soos wat niemand anders dit kan doen nie. Tannie Daisy lê behoorlik bo op die ding en suig al die hitte in haar lyfie in. Dan kom daar amper niks meer uit om by my aan te kom nie. Maar nou ja, dis seker nie die ergste nie. So lank ek net binne in die huis is en nie buitekant nie. Hierdie vroeg oggend as die son uitkom dan is die wêreld spierwit geverf. Maar die baas kom nooit die tyd van die dag uit die huis nie. Hy wag tot die stoom op die huis se dak staan, dan sal hy probeer om sy gesig by die deur te wys. Dan moet ek hom baie mooi verduidelik: “Kom baas, dis lekker hier buitekant.” Maar nou glo hy my glad nie, want toe hy die deur oopmaak, toe vlieg ek in en gaan reguit kunsson toe. So daar het ons mekaar iewers misverstaan. O en die ander ding sal julle ook nie glo nie. Hier by ons word dit elke dag later lig. Ek is al laaaaank al wakker en klaar geslaap, dan is die son nog nie opgehys nie. Die ou wat elke dag die son ophys en weer laat sak het iewers sy horlosie verlê. Dis nou sommer laat in die oggend wat die son opgehys word en nog voordat ek kos gekry het in die aand, dan het hulle hom weer laat sak. Lyk dit by julle daar ook so? Laat weet net, dan voel ek beter.
Nou die oggend was die wereld nog woes wit toe die baas uitkom om te ry. Ek weet nie wat het die baas rondgejaag dat hy so vroeg al wou ry nie, maar hy wou ry. Dis eers die sleutel in die slotjie druk en dan wag die baas. Hy sê dis glo om die diesel eers warm te maak voor dit in die enjin kom. Skielik toe draai die baas die sleutel en dis ‘n gehoes en geproes en wit rook wolke wat die bakkie agter uitspoeg. Gewoonlik kom dit mooi swart daaruit en ruik goed getoast. Maar vandag! Dis sulke wit wolke en ruik na diesel en die hele bakkie verdwyn soos hy daar staan en hoes. Die baas het beslis die diesel te warm gemaak dat die stoom en witwolke so trek. Ek het ook gehoes van die slegte rook. Maar uiteindelik toe die baas wegtrek toe loop die bakkie se enjin weer op vier bene en die rokies is toe bedaar en amper mooi swart. Maggies baas, die bakkie sal in vlamme opgaan!
Maar die miesies verstaan niks perdetaal nie. “Jaaa, ou Serengeti, ek en jy gaan lekker na Fauresmith toe en dan wen ons die internasionale kampioenskappe daarso. Jy moet net jou pootjies optel.” Serengeti skud sy kop. Hy sê baie duidelik: “Brrrrrr hihihihihhihi.” Ek verstaan nie dat die miesies nou nie weet dit beteken: “Goeie mev. van der Brrrrrrugge. Jy maak my lag. Hie hie hie hie hie” En sy gaan net aan met die vrolike gesprek met die perd wat haar niks glo nie. Maar Serengeti moet nie te seker van sy saak wees nie. Ek sien elke dag saal die miesies die perd op en oefen met hom ‘n end weg. Dan reken sy dat sy en die perd nou fiks word, maar die perd doen al die werk. Ek het al saamgedraf tot by die teerpad, maar dan gee die miesies goed gas en verdwyn dat die stof so slaan. Iewers langs die pad laat sy vir Serengeti swem want as hulle terugkom is die arme perd sopnat. En dan wil sy hom nog met die groen slang en ysblokkieswater verder afwas. Gelukkig is ek nie ‘n perd nie! Brrrrr hahaha
So what ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!