Hierdie dag was nou ‘n baie rustige dag. Die son skyn, die windjie waai warm, alles dinge wat julle niks van wil hoor nie, want dis mos nou maar net die gewone. Maar wat maak ‘n hond as jy heeldag lê en slaap ? Die beste wat jy kan doen is om vir die buurman se hond te kuier in die maanlig en dan ook die langafstand huil vir die maan kompetisie hou. Dis ‘n baie opwindende kompetisie. Jy kyk hoe ver die ander honde jou kan hoor. Die uitslag is baie duidelik. Jy meet dit aan die opgewondendheid in die baas se stemtoon as hy op jou skree: MAPSTIEKS!!!!! BLY STIL. My baas se woordeskat is nie so groot nie. Ander base mag nog woorde daar tussen in voeg, maar dit beteken maar net dieselfde. Dan huil jy vrolik verder en wag tot die baas by die deur uitgestorm kom. Het hy niks in sy hande nie, dan wil hy jou verwurg en moet jy hardloop. Het hy daai lang sweep in sy hande, dan is dit te laat. Maak nie saak nie hoe ver jy wegkom nie, as hy daai sweep klap, dan tuit jou ore ontsettend seer. Dan gaan lê ek maar en ek smile, want ek weet ek het die kompetisie gewen. More dan kan ek met my maters gesels oor die uitslag van hulle probeerslag.
En toe al met al het ek ‘n foto ontvang van ‘n baie geleerde hond. Ek wil dit nie vir my baas wys nie, want hy gaan ons beslis ook hierdie ding leer. Eintlik moet hy vir Frommels dit leer, want waar die meneer sy gedoente doen, daar moet ek hoog spring om daar oor te kom. Ek weet nou glad nie hoekom die hondeskool leer om die poopscoop te werk nie. Dis nou regtig onnodig. Ek grou eers my gaatjie in die grond.
Dan doen ek my gedoentetjie heel netjies en ordentlik. Dan gooi ek dit toe met my agterpootjies. Soms korrel ek mis, want ek kan nie agter my sien as ek toeskop nie, maar ek probeer ten minste!
Ons skottelgoed wasser is stukkend. Hy was die goed half. Toe kry ek ‘n ander tip van Sandy. Sy reken sy het die job van skottelgoedwasser oorgeneem. Dit word nog altyd in die masjien gepak, sy lek dit skoon en dan spoel die masjien dit net af en laat dit droog word. Uitstekende job. Sy het die laaste 2 weke wel 3 kg swaarder geword. Ek sou ook as ek so baie van die baas se oorskiet kos gekry het. As jy sien hoe vet hy was! Geen wonder nie.
Nou ja wat, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!