Kyk ek is nou volledig tweetalig, ek kan kats praat. En ek het nog ‘n woord weer bygeleer soos jy sien. En moenie dink dis nie nodig nie. Die klein Oreo is skoon hans. Hy kort baie bespreking en leiding van ouer honde. Jy sien, dis nou gisteroggend wat die baas so lekker met sy skootrekenaar op sy skoot in die bed sit. Hy sit op sy rug sê hy vir my maar dit lyk vir my meer of hy op sy rug lê soos ek dit sien. Toe kom was Freckels sy gesig en kam sy hare met haar tong. Nie dat dit gehelp het nie, want die baas het toe baie driftig daarna sy gesig weer afgespoel en sy hare ook. Toe loop Freckels weer weg, maar die baas sien nie waar nie. Eintlik het sy uit die huis geloop en die miesies het die deur agter haar toegetrek. Maar die baas dink die hond is nog in die kombuis. Nou daar in die kombuis kry die katte spesiale kos op die skryftafeltjie. Want as dit op die grond staan, dan kan ons honde dit maklik bykom. Alhoewel Freckels nie baie moeite hoef te doen om daar by te kom nie. Nou lê die baas nog niksvermoedend in die slaapkamer op sy rug en toe is daar ‘n geraas in die kombuis. Die baas lig sy wenkbroue, rek sy mond so groot oop en skrou: “FRECKELS!!!!!” asof die arme dierasie iets met die geluid te doene gehad het.
Maar wat ja, die lewe is tog lekker! MAPSTIEKS!