Dis die moeite werd om uit te kruip. My ma en my boeties is te flippen lui om te roer, maar ek wil uit. Wie wil hierdie tyd van die dag nog lê en p••p ruik, veral as dit nie jou eie is nie?
Nou ja, as ‘n hond se neus so naby die grond is, dan ruik jy van alles en nog wat wat heel interressant kan wees. Dis nogal heel lonend as jy op ‘n vroë speur-tog gaan. Hulle sê: “ The early dog catches the bone.” Wat hulle eintlik daarmee bedoel vang ek nie, want niemand gooi bene hier rond nie. Kyk, ek het dit al geprobeer met die lang bene wat nog vassit aan mense. Dis nogal ‘n kuns hoor. As die onnosel stilstaan, dan luk dit nogal, maar die risiko is groot. Vandag het ek daai ding getry, en agter die ou aangeloop tot hy stil gestaan het. Ek het probeer om my bek wyd genoeg oop te maak om sy been daarin te kry maar dit wou nie lekker werk nie. Toe ek vir ‘n moment agtertoe kyk of my stert nog aan my vassit en saamkom, toe reverse die lomp idioot sonder om enige kennis te gee presies op my voorvoet. Dit was beslis aspris.
Nadat ek met veel moeite my voet onder sy poot uitgekry het, hink ek daar al singend weg. Ek het die hele Sikele Sikele gesing tweemaal dwarsdeur voordat die pyn bedaar het.
Die dom druif wat die oorsaak was van die besering het beweer dat hy my nie gesien het nie. Onmoontlik. Ek het hom dan gesien en hy het my hele gesigsveld belemmer, maar hy het my kwansuis nie gesien nie! Nou ja, ek bêre nou nie hierdie gevoelens van afkeer op lang termyn nie en vergewe maar die ou. Per slot van rekening kry ek kos en inwoning hier ingesluit by my êppie-salaris.
Ek leer hier vir sekuriteitswaghond. Die eerste wat my geleer word, is om te wag vir die kos. Ek mag nou byvoorbeeld nie inhardloop en mooi teen 120 desibels vra vir kos nie. Dan kry ek ‘n harde lae frekwensie gebrom teen ten minste 180 desibels weer terug wat eintlik my ore seermaak wat klink soos “UUUIIITTT”, whatever dit ook mag beteken. Dan skoert ek maar liewers voordat die persoon ‘n beroerte kry en dan het ek dit gedoen.
Ek het ‘n vreeslik interessante ontdekking gedoen hier onder die tafel terwyl die baas sit en niks doen doer ver da bo. Sy pote het hy binne in sulke swart kanoes gedruk waarmee ek die dam sal kan oorsteek. Nou die goed het sulke toue aan. Dis vrek interessant. As jy hard genoeg daaraan trek, dan kom dit saam en word aan die anderkant korter. Eventually lê daar twee toue los aan weerskante van die kanoe en dan kan jy met die volgende een begin. Dis toe wat die baas agterkom wat my so magtig interesseer. En was hy ongelukkig! Weer daardie onderaardse bromgeluide wat my maak weghardloop voordat my ore van my kop afval. Gelukkig het my stert nog saamgekom. Ja, ek het dit getjek, want sê nou net die ding bly agter!
Jy vra: “Wat maak ek eintlik met die stert?” Dis nogal glad nie so eenvoudig nie. Die apparaat agter aan jou boude behoort aan jou volgens jou ma. Nou die groot kuns is om die ding ritmies heen en weer te swaai soos wat jy loop. Jy kan dit in tyd met jou linkeragterpoot en jou regtervoorpoot swaai. Of jy kan dit in tyd met elke poot swaai. Dis baie prettiger. Dan sal die stert byvoorbeeld ook driftig swaai terwyl jy lag. Jou lagspiere is direk opgekoppel met jou stert. Dan ook as daar gevaar is, dan hardloop jy vinnig weg met jou stert tussen jou bene sodat die gevaar nie jou mees uitstekende punt, naamlik jou stert, kan beetkry nie. Dan kos dit ook baie oefening om die stert te vang. Dis makliker om jou boetie se stert te vang as jou eie. Maar jou boetie gryp baie harder met sy tande as wat jy self sou gedoen het. So, nou gryp ek hom ook so hard as ek kan tot hy sing.
Ek het dit vandag ook met my ma probeer, maar sy het baie lelik gevloek. Soos “Harwargrwar” en haar neus opgefrommel tussen haar oë. Dit het woes snaaks gelyk. My boetie het daaroor gelag tot sy vir hom kyk. Toe hardloop hy weg met sy stert tussen sy bene sodat sy hom nie kan beetkry nie.
Die ma van ons is nogal gevaarlik. Ons is iewers in die spaarkamer onder die bed gebore. Maar die mense wat hier woon, het ons summier uitgesit. My ma het seker nie die huur betaal nie. In alle geval, dis toe wat sy besluit om in ’n onbewaakte oomblik ons weer daar in te dra. Sy pak my sommer met haar groot bek rondom my lyf en dra my daar in. Dit was nie lank nie, toe is ons weer uitgesmyt. Die mense hier is baie ongenadig.
Maar vandag probeer die ma weer daai slim ding van haar om my hier in haar bek rond te dra. Ten eerste was dit ongelooflik seer.Ek sing die hele pad Sikele Sikele en Blou Blou maar sy hoor niks. Iets het egter skeefgeloop. My ma kon nie weer saam met my oor die drumpel kom nie. Sy kon nie haar hoof hoog genoeg optel sodat ek kon inkom nie. Toe try sy om haar onderste kakebeen daaroor te kry sonder om haar boonste kakebeen ook te lig. Menende dat ek daartussenin vasgesit het. Dis die wat ek so ‘n straaltjie water in my ma se mond gelos het. Toe los sy my liewerste. Sy het dit nie gelike nie.
Toe spring ek maar self oor die drumpel binne in die kombuis. Dis ‘n baie mooi plek die waar die meeste kos voorkom wat jy jou kan indenk. Die vloer lê vol met krummels. Dis deel van my jobbeskrywing om die vloer skoon te hou. Die ongeluk is dat ek so nou en dan ’n glipsie kry en dan is daar bykomende water op die vloer waar dit nog nie was nie. Jy moet sien as die miesies met haar kaal voete daaroor skaats. En sy kry dit nogal reg hoor! Maar dan skrou sy soos die ambulans wat by die grootpad verbykom. Dis nie gesond vir jou ore nie. Dan loop ek maar liewer so stilletjies daar na die binnekamer toe.
O ja, en verder is daar ook nog ‘n suster kat in die huis. Die eerste keer wat ons mekaar sien, het ons baie geskrik. Sy jack haarself op dat sy amper vyfmaal so hoog staan soos ek, toe gee ek pad maar sy het ook pad gegee. Verder groet ek eers tot volgende keer. Die lewe is baie interessant. MAPSTIEKS!