Dis nou vir my wragtig snaaks. Dit was altyd so lekker warm gewees en die dae het lanker geword en die nagte korter. Ek het nou regtig daarna uitgesien dat die dag nou eendag oneindig lank gaan wees en daar geen nag meer gaan wees nie. Wat doen jy nou eintlik in die nag? Slaap? Dit doen ek in die dag ook. Ek worrie nie oor die donker van die nag nie, ek sien net so goed in die nag as in die dag, ek ruik beter in die nag en ek hoor beter in die nag, MAAR in die nag skyn die maan. En dit beteken nie veel vir warmte nie. Die ding skyn en skyn maar jy voel niks daarvan nie. Grrr. Jy kan vir hom huil en blaf maar geen reaksie, dit bly ‘n koue lig. Soos die lig wat die baas in sy hand ronddra. Ingeblikte maanligstraal. Flits noem hy dit maar ek stem nie saam nie. Die flitse wat ek sien raas ontsettend baie. Daar is so ‘n klein fraks van ‘n sekond ‘n flits en dan die volgende minuut raas dit onbehoorlik!
Maar ja, soos ek sê, ek het regtig agtergekom die dag raak nou korter en die nag raak lanker. En kouer. GRRR. Nou het ons hier op Sondagmiddag lekker saam met die baas gaan stap. Dis altyd baie ontspanned om met die baas te gaan staal. Kyk maar:
So het ons die middag rondgestap en fodies gemaak en en en. Maar die ene moet ek nog vertel. Die baas se kind kom die sondag middag kuier. Maar sy het nie gesê hoe laat nie. En die miesies het nou lekker kossies gemaak vir die kuier ding. Dan sit hulle so om die tafel en eet die kossies en ons moet buite wag of daar iets van die tafel gaan afval. Die bybel sê die hondjies mag die krummeltjies kry wat van die tafel af val. Nou het ek die baas al mooi geleer. Hy weet daai ding en gooi sommer krummels van die tafel af. Dan kyk die miesies baie boos, veral as daar kuiergaste is. Dan mag niks van die tafel afval of gegooi word nie. Ek like nie daai idee nie. Jy sal nou dink as daar meer mense is wat eet gaan daar minder oorbly, maar iewers werk dit nie so nie. Die miesies maak altyd te veel kos. As daar nie kuiermense is nie, dan maak sy net bietjie te veel. Maar as daar wel kuiermense is, dan maak sy sommer genoeg te veel dat ons kan saam eet, alleen ons mag nie saameet nie, ons moet later buite eet.
In alle geval, die kind van die baas vat haar tyd en die miesies loop rond en sê vir Kleinkat hy moet die tafel oppas.
In alle geval, suster Kat het die borde getel en die plaatkoekies wat die miesies gebak het en die moffies of muffins of so iets. Toe deel sy dit deur 5 mense en kom agter daar gaan ‘n res wees van 3. Bravo, een vir haar, een vir my en een vir Kleinkat. Verder mag niemand niks hiervan weet nie.
Ek het niks gesien nie, beweer Kleinkat. Ongelukkig het die vervlakste fotograaf ons gesprek gehoor en vir suster Kat belet om die wonderlike plan uit te voer. Spoilsport! Ek gaan hom fire!
Maar nou ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!