Ja ek lek my mond af. Dis nou lekker. Een groot lek links van my neus en dan een regs. Dis baie goed om so’n lang tong te hê. Die baas het nie so ‘n lang lek tong nie, hy moet altyd ‘n lappie uit sy sak uithaal om sy neus af te vee. Kan jy nou dink hoe vuil moet dit wees. Die lappie kom uit sy sak uit wat ook nie skoon is nie. My tong is altyd skoon. Ek lek my tong altyd af. En so bly my neus ook skoon.
Gister het daar nou ‘n baaaie snaakse ding gebeur. Die baas se twee susters van Holland af het kom kuier. Ek weet nie hoekom noem hulle dit Holland nie, want as die land Hol was dan kan jy niks daarin sit nie. Dit sal vol met water loop en daar sal altyd ‘n holte wees so ek dink dit beteken iets anders. Soos in hol vir weghardloop of iets. Maar die suster het ‘n baie oulike raasding waarmee sy praat. Sy sit die ding teen haar oor en dan roep sy: Hallo, Daag, ja hoor, neee O O ja ja. Neee. Daag. En dan sit sy die ding weer neer. Soms raas die ding soos die baas s’n krng krng en dan tel sy hom op en begin weer. Hallo, Daag, ja hoor, neee O O ja ja. en so voort. Maar gister kom daar ‘n geluid uit soos die van ‘n klein katjie. Ek kon sweer die klein kat is binne in die plat raasding. Maar ons twee katte het dit baaaaie snaaks gevind. Hulle het op en af die tafel gespring, die verkeerde een natuurlik, weer onder die tafel geloer. Frommels het op die grond gelê, sy kop opgetel en rondgekyk asof hy iets weet. Dit moes hy nie gedoen het nie. Susterkat bevloog die arme Frommels met ‘n groot geblaas en kap met haar voorpoot na sy neus.
Dit is nou ons werk hier op die plaas. Tombi en Freckels nie. Hulle het net werk as ons slaap. En dis glad nie fair nie. Omdat hulle so onnosel is blaf hulle vir niks. Die skaduwe van die bome wat roer op die grond maak hulle blaf. Die maan wat agter die wolke uitkruip maak hulle blaf. Die uil wat onskuldig verbyvlieg maak hulle blaf. Die krimpvarkie wat motte onder die lig vang maak hulle blaf. Al hierdie onskuldige dinge, dan kan ek en Frommels nie slaap nie. As ons nader kom om te sien wat is fout, dan bly hulle tjoepstil. More oggend dan is dit weer helder dag en die twee tewe gaan le en slaap en ons moet weer werk. Geen oog toegemaak in die nag. Menseregte dag? Hulle moet honderegte dag ook sterk oorweeg.
Maar nou ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!