Die klein great danetjies kan mos nog nie die “r” sê nie, nou l l l dit nog. Glllll maak hulle dan. Onnosels. As jy net skeef vir hulle ky dan is dit: ieow ioew en so meer. Ek weet hoe om daai goeters te hanteer. Dit is al die derde kroos wat hier op Boesmanspruit aankom. Die ander twee was tannie Tombi s’n maar sy is uncapable gemaak. Sal nooit weer kleintjies kry nie. Nou eet sy nog altyd of sy 15 kleintjies moet dra, en sy word nou lekker mollig. Maar Freckels se kleintjies is Frommels se indaba. Ek sal hom net touwys maak, want hy is so onnosel as wat hy groot is. Tussen hom en Freckels sal die klein goed baie gou uitgedun wees sonder dat die miesies hulle verkoop en so ver ek weet is daar reeds 3 van hulle wat base het. Hulle moet net groter word dat hulle kan gaan. Hulle is al reeds amper so groot soos ek, veral hier om hul magies rond, die pote is bietjie korter en ook die lengte van die lyf ontbreek. Maar die gewig! Ek het probeer om een van hulle op te tel. Maar nou moet ek my kake styf vasklem anders val hulle uit. Dit like hulle niks nie. Skrou! Binne 5 tellings was die ma daar om te sien wat gebeur nou daarso. En dis sulke tyd wat sy die kleintjie wat in my bek hang nou aan die stert kant beetkry en sy grom vir my WOS! Nou verstaan ek glad nie WOS nie, maar met die kleintjie in die bek kan sy nou nie sê LOS! nie. En ewe beleefd maak ek toe my bek oop en vra: “Eskuus? Wat sê jy?” Met die antwoord het die kleintjie natuurlik lank al uit my mondjie geglip en hang nou bo in Freckels se bek. “Toemaar, dis al regs so” antwoord sy terwyl die kleintjie karplaks op die grond val. Hy het nie gedink dit was gaaf nie en vir my en sy ma baie skeef aangekyk maar liewers niks gesê nie. Voorlopig lyk dit of hulle heel gesond is. Hulle het nie vlooie nie. Ek wil nog daar tussen hulle gaan lê sodat my vlooitjies op hulle kan oorspring sodat hulle kan leer krap. Maar Freckels verwilder my daarso. “WAT soek jy hier jou klein niksnut?” Tune sy my.
“Ek is darem meer gewild as jou kleintjies, die baas het my nie verkoop nie maar joune waai sodra hulle groot genoeg is.”
“Wat wou klein koek, hierdie kleintjies van my is waardevol en die baas kry geld vir hulle maar jy is so waardeloos, die baas moet die mense geld gee om jou te vat!”
Dit glo ek natuurlik nie alles nie. Dit is ‘n baie lelike aantyging wat sy daar nou maak. Ek is seker dat as die baas my gaan opveil op ‘n vendusie dan gaan ek ‘n miljoen rand behaal en dan sal die baas my nog nie laat gaan nie, nie eers vir ‘n miljoen nie!
“Vandag” sing sy terwyl sy haar oe so groot maak en haar stem so bietjie oprev, “Vandag is daar ‘n spesiale aanbod op perde. Koop hierdie pragtige perd en kry ‘n hond gratis!!” En met die loer sy so betekenisvol in my rigting. Ek het nie geweet hoe vinnig moes ek daar tussen hulle bene deur wegkom nie. Ek het weggekruip en nie weer tevoorskyn gekom voordat die perd in die horsebox gelaai is en weg van die plaas af.
“O hier is jy jou klein koek!” Tune die miesies my. “Amper was jy saam met die perd!”
“Ja ja, miesies, ek gaan hierdie storie vir die baas vertel.”
“Agge nee wat, jy kan hom maar alles vertel ek gee nie om nie.”
“Baas baas, hoorieso, die miesies wil my weggee met ‘n perd gratis.”
“O ja, ou vrou en hoeveel kry jy dan vir die transaksie?”
“R15000 my liewe man, hoe klink dit?” “Heel oraait. Aangesien jy dan my Mapstieks wil weggee, stel ek voor dat ons die saak omdraai. Jy gee die geld vir my vir Mapstieks, dan het jy die perd verniet weggegee. Hoe klink dit?”
“Nee wat, los maar, hou maar vir Mapstieks, die mense wil hom tog nie hê nie, hy jaag net koek aan”
Dis nou soos wat my lewe hier vir my gereel word op die plaas. Ek moet net mooi koes of ek word iewers net weggedoen! Gelukkig skerm die baas vir my, anders is ek nie my lewe hier seker nie.
Nou ja, verder het ek van ‘n ander pel op Facebook hierdie foto gekry: Ken ek dit nie!!!!!
Maar nou ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!