Dis daai klein Frommelse Freckelse brakke se hele dag se werk. Hoe op dees aarde hulle dit regkry om so aanoudend te suie weet ek nie. Die arme Freckels durf haar gesig nie meer te wys in die kleuterskool nie. As sy daar in kom dan storm al ses haar met mening en hang onder aan haar melkbottels. Ek kyk hulle so en verwag enige oomblik die magies gaan bars. Maar nee hoor, dit suie en suie en hulle swel soos blaasoppies maar bars niks nie. Een van die klein danetjies is ‘n baie christelike hondjie. Hy het ‘n groot wit kruis op sy bors. Soos dit ‘n opregte christen betaam maar dan sonder kettinkie.
Toe gaan stel ek ondersoek in om uit te vind waar die ander kabouters heen getoer het. Ek kry hulle net daar onder die palmboom, loer of iemand daar langs wil loop en dan onverwags al 5 die arme ou bestorm.
Die eerste was die baas aan die beurt. Hulle kom so heel onskuldig met daai heilige engeltjie snoete nader en waai die stertjie so niksbetekenend. Altans, dis wat die baas gedink het. Die volgende oomblik toe gryp twee van die karnallies hom aan sy broekspype daar net by sy enkels vas en trek. Skoert! Weg julle! Skrou die baas maar dit was nie die regte ding nie. In pleks dat die twee brakkies hom los, raak die ander nou nuuskierig. Hulle reken die baas roep hulle. Maar Skoert is nie ‘n goeie naam vir ‘n hond nie. Laat my dink aan die vriendelike Rotweile by die buurman. Sy naam is Skoert. En as daar besoekers die werf op kom dan stap hy ewe vriendelik na die kar met so ‘n onheilige gryns op sy bakkies. Die meeste van die mense skree dan SKOERT! SKOERT! En dan eers sit hy ‘n galop in want nou raak die mense opgewonde en het iets interessants vir hom. As die mense gelukkig is dan kry hulle die kar se deur toe voordat Skoert by hulle is en dan staan hy en kwyl voor die deur en staar die besoekers stip in die oë. Dis as hulle gelukkig is. Sommige besoekers het so ver gevorder as so tien tree van die kar af en dan maak hulle dit nie altyd nie. Dis sulke tyd wat Skoert baie opgewonde raak as hulle hom niks gee nie en dan gryp hy ook sommer na hulle bene. Dan moet jy hulle hoor! VOERTSEK! SKOERT! VOERTSEK. Gelukkig is voertsek gewoonlik nie naby nie. Dis maar net die ou Brahmaan Bul se naam. As die ding ooit weet dat sy naam so ydellik gebruik word, dan sal dit groot moleste wees. Met Skoert voor in die koor en Voertsek op volstoom daar agter gaan daar beslis ongelukke gebeur.
O en verder verkoop ek die brakkies.
Dis ‘n baie spesiale prys. Die helfte is al weg en die wat nog wil hê kan my skakel by 082 326 3331. Spesiale aanbod: Was R2400, gaan nou halfprys vir R1200. Eerste kom, eerste haal!
Maar nou ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!
Besoek mapstieks se website op http://mapstieks.weebly.com