Nee, dis hierdie keer nie ek wat so lekker lag nie. Dis Serengeti wat my verduidelik hoe hy daar in Winburg gevaar het met die uithourit.
Dis elke jaar weer opnuut die Miesies wat die perde daar doer laat hardloop. “Uithourit” noem hulle dit. Hulle ry die perd tot op sy uiterste. Ek het dit al baie keer hier gesien as die Miesies oefen met die perde. Dan klim sy op, ry die perd tot hy klein raak en so ‘n uur later kom sy weer trug, perd nat gesweet en moeg. Dis oefen, sê hulle. Soms draf ek saam, maar as die tarentale hier voor my opstyg, dan raak ek van koers af agter die tarentale aan. Teen die tyd dat ek hulle los, is die Miesies en Serengeti al skoonveld weg. Onsigbaar. Dan loop ek maar alleen huis toe en wag vir hulle. Nou het die Miesies besluit om hierdie jaar by Winburg te gaan uithou. Sy en Serengeti het ‘n hele week weggebly. Die Maandagoggend weg en die Saterdagaand donker eers weer terug. Serengeti was glad nie lus om met my te praat nie. Hy het die hele dag in die horseboks gestaan. Hulle wil nie vir hom bankies daarin sit nie sodat hy kan sit in pleks van staan. Geen mens kan vir 8 ure so op sy bene bly staan as hy ry nie. Gaan klim in die bus en staan van hier tot in Bloemfontein! Jou bene sal dit nie hou nie, maar die arme Serengeti moet net hou. Hy sê die Miesies het hom paar keer oopgemaak tot die laaste keer toe wou hy nie weer so gewillig inklim langs die pad nie. Daarvandaan het die Miesies hom nie weer langs die pad uitgelaat nie. Maar die uithourit was iets anders. Altyd doen hulle so 80 km op die uithourit. Maar hierdie ene was glo 120 km.
“Ja, ja, Miesies, vir wat dit mag werd wees. ONS sê jy dan, EK draf en jy sit op my rug!”
En dis soos wat dit was. Die eerste 3 keer wat ons uitgery het, was dit fine. Vertel Serengeti my. Dis gewoonlik so 80 km in drie rondtes. Miskien was hierdie ‘n rapsie meer. Maar toe besluit die Miesies om nou vir die vierde keer weer uit te gaan. En dit was glad nie deel van die ooreenkoms nie. Sy het gesê ons gaan lekker ver draf. Dis gewoonlik so op ‘n uithourit. Dan draf ons mos ver. Maar hierdie keer om vir die vierde keer uit te draf is buite alle boeke om. Ek het so die eerste 20km nog my bes gedoen, maar daar is geen ander perd in sig nie. Ek sweer ek en die Miesies is alleen op die baan. Toe sê ek: Nou is ek moeg. En ons stap so stadig verder aan. Inmiddels het dit donker geword. Gelukkig kom die mense toe met ‘n bakkie maar sonder die horseboks om nou vir ons lig te gooi op die pad. En ek is vrek honger. Ek staan stil en die Miesies klim af. Die bakkie agter ons lig mooi op die lekker gras hier langs die pad en ek besluit toe om eers ordentlik my pens weer op datum te kry. Maar die Miesies was glad nie daarvoor te vinde nie. O NEE Serengeti, praat sy kwaad met my. Dis nie NOU tyd vir piekniek nie! Ons moet sorg dat ons by die baan kom voor sluitingstyd. Wel ja, ek is nou gesluit vir ete-break en gaan nie verder nie. O ja? dan is jy glad nie so moeg soos wat jy wil voorgee nie. En toe klim die groot tannie weer op my rug, met ‘n lat en slaat my gat. Dis toe wat ek woes agtertoe hap om haar te byt, maar sy het dit sien aankom en my met die lat tussen my ore gekielie. Dit was nie gaaf nie. Toe stap ons nog ‘n rukkie verder tot ek besluit het, ek gaan nou lê. Ek is gatvol. Die miesies het my so gekyk, weer afgeklim en my getrek. Nou ja, jy kan mos nou nie ‘n ou tannie so dom laat lyk nie, toe staan ek maar weer op en stap agter haar aan. Tot by die wenstreep
Maar nou ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!