Ja, ja, ja, die baas het my mos “bevorder” tot plaaswaghond omdat ek kamstig nie betyds by die busstop was as die baas wil huis toe ry nie. Kom nou, ek het ook my verpligtinge in die dorp om na te kom: bome wat aandag moet kry en dan die jong tefies wat dinge van die lewe moet leer en so. Maar toe ek nou een keer nie om half ses terug was nie, toe gaan eet die baas alleen met die miesies in die restaurant. En toe hy daar klaar is, het baas Hannes my opgespoor en soontoe gebring. Maar dink jy ek het ‘n beentjie gekry? Niks hoor, ek is bevorder tot plaas sekuriteitshoof en het die dorp net gesien toe die baas my na die veearts geneem het om te laat “regmaak”. Wat dit ook al beteken, maar ek was nooit weer dieselfde nie.
Dis nou hoe ek hierdie storie van die rot moet aanhoor toe die baas in die aand by die huis kom.
Hulle het glo ‘n nuwe drukker daar gekry en die deur was wawyd oop. So oop dat jy met ‘n wa daardeur kon ry. Dis toe wat hulle gedoen het, die drukker op ‘n waentjie gelaai en ingestoot. Maar met al die werkskaf het hulle die deur oopgelos.
Op een of ander manier het die groot rot toe besluit om sy wintervakansie binne in die winkel te gaan hou. Daar is ontsettend baie plek vir hom en gaatjies om weg te kruip en papier om ‘n bedjie te maak en dies meer. Nou, omdat ek nie daar was nie, het die ding vryelik koers gevat na baas Hannes se deel daar agter by die herstelwerke. En mies Christa was ook daar. Nou, baas Hannes is ‘n baie besadigde mens. Hy spring nie rond soos ander wat onrustig is nie. Maar die dag toe die baas die rotterasie aanskou, toe kry hy atoomkrag in sy agterstewe en styg amper ‘n halwe meter op.
Mies Christa los toe so ‘n klein gilletjie van opwinding, want sy het nog nie die rotding gesien nie. Maar toe sy hom gewaar, toe sit sy haar sirene aan. Full blast, stereo, al 200 Watt RMS by daai keelgat uit. Die baas skrik homself in ‘n ander bloedgroep in, sê hy. Hy was net besig om popcorn te munch toe die rotterasie op hom af kom. Dit was nou op pad terug buitetoe. Die baas se brein hak toe vas in die vorentoeagtertoe stand en hy markeer die pas op een plek, maar baie vinnig terwyl die rot net koes. Hy het sy ore so platgedruk met sy twee voorpootjies om van die geraas af weg te kom en hardloop op sy agterpootjies daar rond. Die baas het hom seker op sy stert getrap, maar hy is toe weer trug in die werkswinkel. Daar staan toe twee groot mense wat nou bedag is op sy koms en wys met hulle voete in sy rigting met kwade bedoelings om ernstig te beseer. Dus draai hy maar weer om. Die baas het intussen ‘n stok gehaal om die rotterasie by te kom. Miesies Lynne sit niksvermoedend bo op die tafel maar toe sy agterkom van die rot en die stok hier onder, toe join sy die koor en lig haar voete so hoog van die grond af dat selfs ek nie daarby sou gekom het nie. Asof die klein ou dierasietjie nou vlerke sou kry en opstyg. Op die ou einde vlug die rot in die rigting van een van die kliente en die gee hom geweldige momentum met sy skoen dat die rot opstyg en buite op die stoep beland. Toe klim hy hier onder ‘n kar in en verdwyn. Totaal verdwyn. Verdamp in dun lug. Ons het hom nooit weer gesien nie. Dit beteken dat die rot verstand gekry het en nooit meer teruggekom het nie, of dat hy publieke oogkontak met enige mens in die winkel absoluut vermy het.
Maar nou ja, die lewe is tog lekker!
MAPSTIEKS!